Die Garden Route Badgers het Saterdag ’n belangrike oorwinning in die Hollywoodbets Pro50-reeks behaal toe hulle die DP World Lions met net een lopie volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode (DLS) geklop het. Die naelskraapse oorwinning het die Lions se hoop om die voorste posisie op die punteleer in te neem, gekelder.
Die wedstryd op die Wanderers-klub se veld in Johannesburg is weens slegte weer twee beurte voor die einde gestaak, met die Badgers op daardie stadium voor die vereiste DLS-teiken.
Die Lions, wat eerste gekolf het nadat die Badgers die loot gewen het, het gesukkel om momentum te vind. Tazmin Brits (29) en Karabo Meso (26) het goeie beginwerk gedoen, maar die Badgers se boulers het die druk volgehou. Yolandi Potgieter (3/32) en Khayakazi Mathe (2/31) was besonder effektief.
Die tuisspan het op 137/8 in die 35ste boulbeurt gewankel voordat die ervare Raisibe Ntozakhe met ’n onoorwonne 44 van 44 balle die beurt help red het. Die Lions is uiteindelik vir 203 uitgeboul.
Die Badgers se openingspaar, Courtney Gounden (46) en Babette de Leede (37), het met ’n vennootskap van 69 lopies ’n stewige fondament vir die lopiejag gelê. Nicolien Janse van Rensburg (22*) het daarna ’n belangrike bydrae gelewer om die Badgers tot 196/7 te neem voordat weerlig die wedstryd voortydig beëindig het.
Sondag het die spanne mekaar weer in die Pro20-kompetisie gepak, maar dié keer was dit die Lions wat met vier paaltjies geseëvier het.
Die Badgers het 133/9 aangeteken, met Verunissa Reddy (27) en Aluncedo Dunga (32) wat belangrike bydraes gelewer het. Tumi Sekhukhune (3/21) en Ayabonga Khaka (3/22) was die Lions se beste boulers. Khaka het boonop in die laaste boulbeurt ’n indrukwekkende driekuns behaal.
Die Badgers se Jané Winster (4/13) het vroeg twee paaltjies geneem, maar Brits (43) het die Lions se lopiejag gestabiliseer. Mieke van Voorst (29) en Sinalo Jafta (29*) het met ’n vennootskap van 48 lopies die oorwinning help verseker. Die Lions het die teiken met agt balle oor bereik.
Hoewel die Badgers Sondag moes terugstaan, was Saterdag se belangrike Pro50-oorwinning ’n groot hupstoot vir die Oudtshoorn-gebaseerde span.
Badgers troef Lions met een lopie in opwindende Pro50-kragmeting
Foto verskaf.
Be the first to comment on "Badgers troef Lions met een lopie in opwindende Pro50-kragmeting"