2026 Eden Straatmyl-reeks amptelik bekendgestel

Foto: Granwille Goliath.

Die 2026 Eden Straatmyl-reeks is amptelik bekendgestel tydens ’n funksie by Oudtshoorn Suzuki, waar sowat 50 borge, lede van die plaaslike reëlingskomitee (LOC), mediaverteenwoordigers en ander rolspelers byeengekom het om die om die atletiekreeks bekend te stel.

Ten spyte van die snikhete temperatuur van 40°C het die geleentheid groot belangstelling gelok.

Desmond Speelman, voorsitter van Eden Sportkonfederasie (EdenSC), het die reeks amptelik geopen en sy vertroue uitgespreek dat die 2026-uitgawe weer ’n groot sukses sal wees.

Die bekendstelling is moontlik gemaak deur die ondersteuning van Radie Loubser, handelaarshoof van Oudtshoorn Suzuki, MSEC en Camp Roadhouse, wat as borge opgetree het.

Onder die belangrike rolspelers wat die geleentheid bygewoon het, was Hans van der Veen, voorsitter van die KKAF en LOC; Dirk Kotzè, uitvoerende burgemeester van Mosselbaai; Jean Neethling van DCAS; Ruan Meyer van die Noordwes-Universiteit (NWU); Karen Phipson van die ATKV; Francois Maquassa, SWD-atleet; en David McKinnon van ASWD. Jakhals Events was verantwoordelik vir die aktivering en aanbieding van die suksesvolle bekendstelling.

Die Eden Straatmyl-reeks het sedert sy ontstaan in 1999 gegroei tot een van die belangrikste sportgebeurtenisse in die Suid-Kaap en word beskou as een van Suid-Afrika se voorste mylwedrenreekse. Oor die jare het duisende van die land se topatlete aan die reeks deelgeneem, met talle indrukwekkende vertonings, insluitend verskeie myltye onder vier minute.

Die 2026-program sien soos volg daaruit:
• 14 Desember – George: Yorkstraat, 17:40–19:40.
• 16 Desember – Oudtshoorn: Baron van Reedestraat, 09:00–11:00.
• 18 Desember – Hartenbos: Paardekraalweg (Noord), 08:30–10:30.

Met sterk borgsteun, gevestigde samewerking en ’n ryk atletiekgeskiedenis is die tafel gedek vir nog ’n besonderse Eden Straatmyl-reeks. Die Suid-Kaap se atletiekliefhebbers kan uitsien na opwindende wedrenne en uitsonderlike prestasies! (GRANWILLE GOLIATH)

Be the first to comment on "2026 Eden Straatmyl-reeks amptelik bekendgestel"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*