Vonke spat in Kannaland Munisipaliteit

’N BESOEK van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) en ’n meningsverskil oor ’n omgewingsprojek het sedert verlede week vir heelwat vonke in die Kannaland Munisipaliteit gesorg.

SOE-besoek
Lede van die SOE het verlede Woensdag ( 30 September) die kantore van die munisipaliteit op Ladismith besoek vir ’n deursoekings- en beslagleggingsoperasie in verband met die aankope van persoonlike beskermende toerusting tydens die Covid-19-pandemie.

Pres Cyril Ramaphosa het vroeër vanjaar ’n proklamasie uitgevaardig dat munisipaliteite vir moontlike bedrog met sulke aankope ondersoek moet word.

Die waarnemende munisipale bestuurder van Kannaland, Roland Butler, het aan Netwerk24 gesê dat die munisipaliteit hul volle samewerking gegee en verskeie dokumente aan die SOE voorsien het.

Butler was egter vandeesweek ongesteld en nie telefonies beskikbaar toe Die Hoorn hom oor die besoek probeer kontak het nie.

Rabbets afgedank, sê Facebook-kennisgewing
Die Kannaland Munisipaliteit het voorts einde verlede week ’n kennisgewing op hul Facebook-bladsy geplaas dat die diens van Wessel Rabbets as finansiële administrateur van die Kannaland Munisipaliteit beëindig is.

Die Kannaland Munisipaliteit is in Desember 2018 onder administrasie geplaas, waarna Rabbets deur die provinsie as administrateur daarheen gestuur is. Volgens Die Hoorn se inligting is die munisipaliteit nie by magte om sy diens op te skort nie en is hy steeds in diens van die munisipaliteit. ’n Navraag hieroor aan die kantoor van Bredell was egter teen druktyd nie beantwoord nie.

Die kennisgewing van die munisipaliteit volg op meningsverskille tussen Rabbets en van die raads­lede oor die hantering van ’n sonkragprojek vir Kannaland, be­kend as die Ino­vasure-projek.

Rabbets het ’n konsep-resolusie voorgestel vir bespreking by ’n raadsvergadering op 2 Oktober waarin gevra word dat die raad voor verdere besluitneming oor die projek eers met die provinsiale en nasionale regering moet vergader oor vrae wat hulle in verband met die projek het.

Van die raadslede meen egter klaarblyklik Rabbets probeer die projek kelder, terwyl hy sê dit is nie die geval nie. (Deur Liesel le Roux)