‘Sy was ’n wonderlike, kreatiewe mens’

Japie en Jane Coetzee. Foto verskaf

SY was ’n wonderlike, kreatiewe mens wat hom in alles ondersteun en ’n positiewe invloed ge­had het op almal met wie sy in aanraking gekom het.

So het die oud-raadslid en oud-speaker van die Gro­ter Oudtshoorn, Japie Coetzee, die week vertel oor sy vrou Jane (75), wat op 21 September gesterf het nadat baarmoederkanker by haar gediagnoseer is.

Jane was ’n kankeroorwinnaar wat borskanker vroeër in haar lewe ge­klop het. Toe sy in Julie vir ’n ope­rasie moes gaan, het sy positief vir Covid-19 getoets, maar het nie siek ge­word tydens haar isolasietydperk nie en die hele tyd asimptoma­ties gebly.

Die Coetzees was 49 jaar lank getroud.

Jane, wat jare lank by De Villiers Primêr, Protea Primêr en Saturnus Primêr op Oudtshoorn skoolgehou het, se verassingsdiens het verlede Donder­dag in George plaasgevind. ’n Roudiens vir haar is op 26 September gehou.

Coetzee sê hy sou nooit in sy lewe kon bereik het wat hy het as dit nie vir sy vrou was nie.

“Sy het dit vir my moontlik ge­maak om deur my lewe baie betrokke te wees by rugby, by politiek, by die kerk. Ek was oor die jare baie afwesig, maar sy het daar­die ruimte gevul. Ek kan al my sukses aan haar op­dra – ek sou sonder haar nooit bereik het wat ek het nie.

Hy sê sy was ’n kunstige vrou wat altyd hul woning binne en buite mooi en ’n ware tuiste gemaak het. “Almal was ook vir haar lief en sy was vir almal lief – haar gesin, haar skoon­dogters en haar kleinkinders. Sy het altyd ­met almal gedeel en was oor die jare baie betrokke by die Oudts­hoorn United Congregational Church, ook by die koor en Son­dagskool.”

Coetzee sê hy gaan deur ’n moeilike tyd, maar word gedra deur die ondersteuning van sy seuns – Llu­wellyn, Wade en Wayne en hul gesinne wat op die dorp woon.

Jane word ook oorleef deur ’n aan­genome seun, eerw Leon Klate wat die roudiens waargeneem het, asook deur sewe kleinkinders.