Propvol beursie vind eienaar!

’N BARMHARTIGE Samaritaan van Knysna het Sondag (4 Oktober) op ’n beursie vol R200- en R100-note in ’n badkamer op Oudtshoorn afgekom, en na ’n stukkie speurwerk deur die eie­naar van Die Naguil by Rainbow Motors op Oudts­hoorn het dié beursie vinnig weer sy huis gevind.

“Dit is wonderlik om te weet dat daar wel nog eerlike mense is,” het die dankbare eienaar van die beursie, Marisa Stander, gister aan Die Hoorn gesê.

Die Samaritaan is Letitia Pietersen, wat Sondag, kort nadat sy ’n volstruisleerbeursie in Die Naguil se badkamer opgetel het, ’n boodskap aan Die Hoorn gestuur het oor die voorval en hulp gevra het om die eie­naar te vind.

“Ons was die oggend in Oudtshoorn vir my kleinseun se doop. Omstreeks 8:10 het ons by Die Naguil gestop om die toilette te gebruik. Ek het daar die volstruisleerbeursie in die eerste toilet opgetel, en het onmiddellik dit vir die outjie agter die toonbank gewys. Binne was baie note, en daar was ’n foto van ’n blanke dame,” het sy vertel.

Volgens Letitia het die man die vrou herken en was sy weer vinnig op pad met volle vertroue dat hulle die eienaar sou opspoor, en met ’n bietjie gemoedsrus daarby omdat sy Die Hoorn gekontak het om te help.

Valerie van der Walt, eienaar van Rainbow Motors, sê sy het ook die vrou op die foto in die beursie herken, maar het geen idee gehad hoe om haar in die hande te kry nie.

“Ek het toe Maandag deur die beursie gegaan om te kyk of daar iewers ’n adres was, maar daar was niks nie. Daar was wel ’n Clicks-kaart, en na ’n oproep aan hulle kon ek in kontak kom met die eienaar en die beursie aan haar terug besorg.”

“Wat eintlik ’n heerlike naweek was, kon so vinnig anders uitgedraai het. Dit was dié Sondag my man se 50ste en my seun se 21ste verjaarsdae.

“Ek was so dankbaar om my beursie te kon terugkry, aangesien daar geskenkbewyse en R800 kontant van my seun in was, om nie eens te praat van al die moeite wat dit sou vat om lisensies en ID-kaarte te vervang nie,” het Marisa gesê.

Sy het vertel dat haar dogter intussen die beursie gaan afhaal het aangesien sy self in Oubaai is.

“Tannie Valerie van Die Naguil het soveel moeite gedoen om my op te spoor, en ek sal graag vir Letitia wil bederf.” (Deur Stefan Skapie Goosen)