Oupa wat kind red ernstig beseer

’N 36-JARIGE man wat uit was op parool vir vorige misdrywe, is Maandag (5 Oktober) op Oudtshoorn in hegtenis geneem op onder meer ’n aanklag van die seksuele aanranding van ’n 11-jarige meisie van die dorp.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoer­der van die Oudtshoorn Polisie, het die man gister (Woensdag 7 Oktober) reeds in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn op aanklagte van aanranding om ernstig te beseer, huisbraak en seksuele aanran­ding.

Visser sê die verdagte het na bewering Sondag (4 Oktober) kort na middernag -omstreeks 00:17 – probeer om die 11-jarige meisie in ’n huis in Mullerstraat, naby die Bridgton Sportgronde, te verkrag.

“Haar oupa het wakker geskrik nadat hy haar hoor skreeu het. Die verdagte het die oupa met ’n voorwerp oor sy kop ge­slaan,” sê Visser.

Die meisie se oupa is volgens Visser met drie oop wonde aan sy kop per ambulans na die Oudtshoorn Hospitaal toe geneem.

Hy is later vir verdere behandeling oorgeplaas na ’n hospitaal in George. (Deur Stefan Skapie Goosen)