Volstruisvere kry ’n totaal nuwe lewe…

Pascale Theron, ’n modeontwerper wat gebore is in Johannesburg en nou in Nederland woon. Foto verskaf

’n Jong Suid-Afrikaanse vrou uit Johannesburg wat as modeont­werper in Nederland gestudeer het en nou daar woon en werk, Pascale Theron, is besig om die modewêreld met nuwe oë na volstruis­vere te laat kyk.
Pascale, van Feathered Fabrics, skep materiale van volstruisvere deur die veer uit sy skag te haal en met die draad wat dan daaruit kom, materiale te weef. “Ek dink aan die veer op dieselfde manier as wat mens oor wol dink,” sê sy.
Ontwerpers, plaaslik en internasionaal, het reeds kennis geneem van die wonderlike produkte wat Pascale skep en begin om daarvan in hul ontwerpe te gebruik.
Pascale was verlede week heel opgewonde om ’n navraag ook haar werk van Die Hoorn te kry.
“Ek ken om die waarheid te sê Die Hoorn. Ek het ’n eksemplaar gekoop toe ek Oudtshoorn besoek het om meer oor die dorp uit te vind!”
Op ’n vraag oor hoe sy met volstruisvere begin werk het, antwoord sy: “Ek was nog altyd lief vir voëls. Ek het saam met voëls grootgeword en hulle altyd fassinerend gevind. Gedurende my finale studiejaar aan die Design Academy Eindhoven in Nederland het ek na ’n manier gesoek waarop ek daardie band met voëls kon terugbring.
“Ek het na verskillende soorte vere begin kyk en wat met hulle waar gedoen word, en het so afgekom op Oudtshoorn en sy besonderse geskiedenis. Hoewel ek van Johannesburg af kom, het ek nooit eens geweet dat daar met volstruise geboer word nie en ook nie op so ’n groot skaal nie.
“Ek was dadelik gefassineerd. Dit het het al die dinge waarvoor ek die liefste is met mekaar verbind: voëls, geskiedenis en Suid-Afrika.
“My werk het dikwels bande met historiese en maatskaplike situasies, en om meer oor Oudts­hoorn en sy veretradisie uit te vind het my verbeelding wakker gemaak.”
Pascale vertel dat sy Oudtshoorn in 2017 besoek het en dat dit vir haar ’n besonderse ervaring was.
Tydens haar besoek het sy plaaslike boere ontmoet asook die verefabriek van Cape Karoo International besoek waar sy haar vere aankoop.
“Dit was verfrissend om met ope arms verwelkom te word deur mense wat ook ’n passie het vir die geskiedenis en volstruise.
“”Die CP Nel Museum was ook ’n hoogtepunt wat my baie geleer het oor die geskiedenis van die volstruisbedryf.
“Daar was iets in daardie weke wat ek met die troppe volstruise deurgebring het en die vriendelike mense van die dorp wat altyd by my sal bly en wat ek steeds onthou asof dit gister was.”
Intussen droom sy dat die werksmetode wat sy ontwikkel het dalk ook eendag kan lei tot werkskepping in die Klein Karoo en dat die verbedryf op groot skaal vir weefwerk van tekstiele gebruik sal kan word. (Deur Liesel le Roux)

So toor Pascale Theron met volstruisvere uit die Klein Karoo:

Be the first to comment on "Volstruisvere kry ’n totaal nuwe lewe…"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*