Volstruisveer-legende oorlede

’n Legende in die volstruisveerbedryf en die Klein Karoo is Maandag 21 Oktober na ’n kort siekbed oorlede. Ockie Olivier van die plaas Welgeluk, net buite Oudtshoorn, is in Junie vanjaar net na sy 80ste verjaarsdag met kanker gediagnoseer.

“My pa het nie toegelaat dat die diagnose hom stuit nie, en het steeds vir ons almal opdragte gegee en so ’n vinger op die pols van die besigheid gehou, selfs toe hy in die bed moes bly,” vertel Juliana Coetzer, Ockie se dogter, aan Die Hoorn.

Volgens haar het haar pa steeds gereeld dorp toe gegaan. Een van sy laaste uitstappies het hy selfs die bank in sy rolstoel aangedurf.

“My pa was tot op die einde by die huis gewees, maar is verlede week in die hospitaal opgeneem waar hy oorlede is,”

Hy laat sy vrou Engela (80), kinders, Juliana Coetzer, Manie Olivier en Mouton Olivier en vyf kleinkinders agter.

Sy gedenkdiens vind Woensdag, 30 Oktober, om 11:00 vanuit die NG Kerk Welgeluk, Oudtshoorn plaas.

Die naam, Ockie Olivier, is sino-niem met Wêreldklas volstruisvere. Van die mooiste volstruisvere in die geskiedenis van Oudtshoorn is deur hom geteel. Sy vere was ook wêreldwyd bekend en is gereeld uitgevoer na onder andere Moulin Rouge in Frank­ryk.

Olivier het van jongs af ’n besondere belangstelling in die teel van volstruise gehad en het voorheen aan Die Hoorn vertel dat hy nadat hy sy studie in 1964 aan die Elsenburg Landboukollege voltooi het, baie Saterdagoggende by boere in die distrik gaan kuier het, spesifiek om oor die kuns van volstruisteling vir vere van hoë gehalte te gesels.

Sy volstruise uit die George White-bloedlyn, een van die grootste volstruistelers in Suid-Afrika, het daartoe bygedra dat Oudtshoorn wê­reld­wyd be­kend geword het as die tuiste van pragvolstruisvere en oor die jare is talle pryse daarvoor gewen.

Volstruise uit die George White-bloedlyn is veral bekend vir hul uitsonderlike vere, maar kan ook vir hul vel en vleis gebruik word.

• Die George White-volstruise is vernoem na ’n bekende volstruisboer van Grahamstad wat ’n besonderse krulveervolstruiswyfie in die dieretuin in Oos-Londen gesien en met ’n wa en spesiaal-geboude hok na sy plaas vervoer het.

Die wyfie was een van ’n groep krulveervolstruise wat in die volstruisveerbloeijare deur die Suid-Afrikaanse regering in die Arabiese woestyn opgespoor en na Suid-Afrika laat bring is om nuwe bloed in die volstruisveerbedryf te kry.