Oudtshoorn se liefling, Mej. Suid-Afrika pak haar tasse en sal die naweek na Mexiko, Noord-Amerika reis waar sy aan die 73ste Mej. Heelal-skoonheidskompetisie gaan deelneem. Dit vind op 12 November plaas.
Haar ma, Liesel le Roux, het op Saterdag 3 Oktober vir haar gaan kuier, voordat sy op hierdie nuwe opwindende avontuur vertrek. Hulle het die geleentheid saam gevier en ’n glasie sjampanje geklink.
Mia het vroeër die week op haar Facebookblad die volgende brief geplaas, wat haar ma vir haar in 2000 geskryf het. Dit het talle volgelinge se hartsnare geroer. Hier volg ’n uittreksel van die brief:
“4 Mei 2000. Toe ek Mia vanoggend wakker gemaak het, het sy moedeloos gesug en gesê “Ek wil nie skool toe gaan nie. Ek gaan siek word. Ek is moeg.”
Ek was nie ongeduldig met my dogtertjie wat die vorige aand nie wou gaan slaap het nie en probeer nou verskonings uitdink om nog ’n bietjie te slaap nie. Ek het net verwonderde woorde begin tel. Sewe woorde in die eerste sin! Die sinne na mekaar!
“Vir die meeste ouers sal daar niks snaaks aan so ’n sin wees nie, maar vir my en Schalk is dit deel van ’n wonderwerk wat ons daagliks beleef. ’n Wonderwerk waartoe baie mense bygedra het.”
Die brief sluit af: “Deesdae ervaar ons die wonder om met ons dogtertjie te kan kommunikeer. Ons het ’n lang pad gekom van drie jaar gelede toe ’n tweejarige meisietjie met twee groot gehoorapparate in haar ore en ’n reuse ballon in haar arms voor ’n winkel gestaan het. Skielik het die ballon gebars. Almal om haar het gewip van die skrik. Sy het nie ’n oog geknip nie.”
Lees die volle brief op Mia le Roux se Facebookblad. (ANGELIQUE ERASMUS)