Voetslaanklub inligtingsaand

Lede van die Klein Karoo Voetslaanklub geniet ’n pragtige uitsig en bewonder die natuurskoon op een van hulle uitstappies. Foto: Klein Karoo Voetslaanklub webtuiste

Die Klein Karoo Voetslaanklub (KKVK) hou om 18:00 op Vrydag 23 Februarie 2024 ’n inligtingsaand by die Wesbank Tennisklub in Kerkstraat, Oudtshoorn, en nooi graag lede van die gemeenskap wat in voetslaan/staptogte belangstel om dit by te woon.

Bywoning is gratis, en volwassenes en veral ook hoërskoolkinders en hulle ouers wat in die aktiwiteit belangstel, daarvan hou om tyd in die vrye natuur deur te bring en onder die sterre te slaap is baie welkom om dit by te woon. Verversings, koffie en tee sal by die geleentheid beskikbaar wees.

Die doel van die inligtingsaand is om die KKVK en sy aktiwiteite aan belangstellendes bekend te stel en hulle in te lig oor wat voetslaan/staptogte behels, wat ’n mens daarvoor benodig, hoe ʼn mens daarvoor beplan, ensomeer. Toerusting wat stappers van die klub gewoonlik saamneem, sal getoon word, en inligting daaroor en oor stapaktiwiteite kan met lede van die klub uitgeruil word.

Belangstellendes kan ’n rekenaar-geheuestokkie met minstens 6 gigabyte stoorrruimte saambring sodat inligting vir hulle daarop gelaai kan word.

Vir meer inligting oor die geleentheid en die klub kan die voorsitter, Danie Steyl, by 078 469 3727 gekontak word, of stuur e-pos na daniesteyl57@gmail.com.

Die klub se webwerf, waarop inligting oor die klub beskikbaar is, kan ook by die volgende skakel besoek word: https://kleinkaroovoetslaanklub.godaddysites.com.