Voetslaanklub hou algemene jaarvergadering

DIE Klein Karoo Voetslaanklub (KKVK) hou sy algemene jaarvergadering op Vrydag 26 Januarie 2024 om 19:00 by die Wesbank Tennisklub in Kerkstraat (tussen Parkweg en Buitekantstraat) in Oudtshoorn. Huidige lede en enige belangstellendes wat meer van die klub en sy aktiwiteite te wete wil kom, is welkom om die vergadering by te woon.

Ná afloop van die vergadering is daar ’n gesellige bring-en-braai. Elkeen bring ’n piekniekmandjie met sy/haar eie eetgerei, vleis en drank saam, terwyl die klub sal sorg vir die bykosse, kole en braairooster. Die KKVK bestaan al vir meer as 34 jaar en het elke jaar verskeie aktiwiteite op sy jaarprogram, insluitend dagstappe, naweekstappe en langstappe (3 dae of langer) waarvan die moeilikheidsgraad wissel om soveel lede as moontlik te akkommodeer.

Vir mense wat daarvan hou om in die oop, vrye natuur te wees, onder die sterre te slaap, in waterpoele of in rivierstroompies te swem en ’n bietjie wil wegkom van die gejaag en “geraas” van die moderne leefwyse, en natuurlik daarmee saam lekker fiks wil word, bied die KKVK geleenthede om dit alles te ervaar.

Meer inligting oor die klub is beskikbaar op die klub se webwerf, wat met die volgende skakel bereik kan word: https://kleinkaroovoetslaanklub.godaddysites.com.