Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n man van Umtata wat van voertuigdiefstal aangekla word, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof na die getuienis van ’n polisiebeampte wat as tolk tydens die afneem van sy waarskuwingsverklaring opgetree het, vir verdere getuienis uitgestel.
Die 31-jarige Lulama Kolisi is in die vroeë oggendure van 8 Mei 2018 in Rademeyerstraat op Oudtshoorn in hegtenis geneem nadat ’n polisiehond hom tussen die riete in die Grobbelaarsrivier vasgetrek het.
Dit het gevolg nadat hy in Jan van Riebeeckweg met ’n gesteelde bakkie met ’n lamppaal gebots en glo weggehardloop het.
Hy het ontken dat dit sy handtekening is wat op ’n waarskuwingsverklaring verskyn en het aangedui sy grondwetlike regte is ook nie aan hom voorgehou nie, waarop sy regsverteenwoor-diger vir ’n verhoor binne ’n verhoor gevra het.
Die ondersoekbeampte, ao Martin Cooper, het getuig dat die verklaring in die teenwoordigheid van nog ’n polisiebeampte, vrouesersant Ngoma, afgeneem is en die regte stappe gevolg is. Ngoma het as tolk opgetree hoewel Kolisie gesê het dat hy Engels magtig is. Sy regte is aan hom voorgehou en hy is meegedeel dat dit sy keuse is om ’n verklaring af te lê of nie.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof meegedeel dat hy moontlik ’n handskrifspesialis sal moet roep om te getuig in die lig van Kolisie se ontkenning dat hy nie die verklaring onderteken het nie.
Kolisi het verlede week na die getuienis van Ngoma egter erken dat dit wel sy handtekening is wat op die dokument is waarna dit as bewyssstuk toegelaat is.
Streeklanddros Ntsoki Moni het die saak vir verdere getuienis tot 10 Oktober 2019 uitgestel.
Kolisi bly in aanhouding.