Vliegtuigakrobate gaan Oudtshoorn vermaak

Een van die vliegtuie wat deur die Akrobatiese Klub gebruik word vir hul lugtoertjies. Foto: Facebook

Oudtshoorn kan binnekort na groot lugvermaak uitsien wanneer die Sport Akrobatiese Klub van Suid-Afrika hulle vliegtuigtoertjies bo die dorp kom uitvoer.

Die nasionale kampioenskappe vind vanaf 23 tot 26 Oktober by die Oudtshoorn lughawe plaas en beloof om ’n skouspel te wees.

Deelnemers sal in sportman-, intermediêre-, gevorderde- en onbeperkte klasse deelneem om hulle akrobatiese tegnieke ten toon te stel.

Die kampioenskap is vir die klub ’n spesiale geleentheid aangesien dit ook die viering sal wees van hul 50ste bestaansjaar.

Volgens Warren Eva van die klub, is hulle opgewonde oor die gebeure en sien hulle baie uit daarna. Alhoewel dit nie ’n openbare geleentheid is waar die publiek toegang tot die lughawe sal hê nie, sal daar moeite gedoen word om die geleentheid sigbaar te maak vir mense van Oudtshoorn wat die vliegtuie wil sien.

“Tot dusver is ons ongelooflik hartlik verwelkom deur almal met wie ons so ver te doen gehad het met die aanvanklike reëlings, veral deur TFASA wat hul fasiliteite tydens ons besoek vir ons beskikbaar stel”, het Eva aan Die Hoorn gesê. (Deur Lindi Brill)