Vinnige optrede deur polisie lei tot vervolging van motordief

’N MAN van Dysselsdorp is tot vyf en drie jaar tronkstraf onderskeidelik gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan motordiefstal en huisbraak in Schoemanshoek.

Die 32-jarige Waldo van der Ross is skuldig bevind nadat hy op 25 Januarie vanjaar deur die Oudtshoorn Polisie se sigbare polisiëringseenheid in hegtenis geneem is.

Van der Ross het in daardie stadium ’n gesteelde Quantum-bussie in die vroeë-oggendure buite Oudtshoorn bestuur.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is ’n saak van motordiefstal teen Van der Ross geopen, en is die eienaar van die voertuig nog dieselfde dag ingelig dat een van sy voertuie deur Van der Ross gesteel is.

Die eienaar was van die gastehuis Berluda in Schoemanshoek.

Volgens Visser is daar op verdere ondersoek – ná Van der Ross se inhegtenisneming – vasgestel dat die beskuldigde toegang tot die gastehuis verkry het deur ’n venster by ontvangs.

’n Saak van huisbraak is toe bygevoeg.

Van der Ross het volgens die polisie die bussie se sleutel gevat en weggery.
Hy was nie ’n werknemer van die plaas nie.

Brendon Smit was die aanklaer in die saak. (Deur Stefan Skapie Goosen)