18-jarige van Rosebank sterf na messteek

’N 18-JARIGEe inwoner van Rosebank in Oudtshoorn is Saterdagaand oorlede nadat hy tydens ’n stryery in die regterkant van sy bors gesteek is.

Volgens ’n Oudtshoorn-polisie­woordvoerder, kapt Louis Visser, is Franklin Lucas op die toneel oorlede.

Visser sê die voorval het tussen 21:30 en 22:00 in Rose Hillstraat plaasgevind.

“Daar was na bewering ’n stryery oor ’n skootrekenaar, waaroor daar vroeër die week ook ’n insident was,” het Visser gesê.

Die verdagte, Newon Donley (18), is volgens Visser Sondagoggend omstreeks 05:00 gearresteer.

’n Ooggetuie, wat gevra het om anoniem te bly, sê die stryery was nie oor ’n skootrekenaar nie, maar wel oor ’n meisie.

Die rusie het volgens die ooggetuie plaasgevind toe die oorledene saam met vriende op pad was na ’n winkel toe en die verdagte hom daar vasgegryp het.

Donley het Maandag in die Oudts­hoorn Landdroshof verskyn waarna sy saak na Vrydag uitgestel is vir ’n borgtogaansoek.