’n Assistent-superintendent van die Oudtshoorn Munisipaliteit wat vroeër op bedrogklagtes van meer as R1,9 miljoen skuldig bevind is, Frikkie van Staden (55), het gister gehoor dat hy effektief vier jaar gevangenisstraf sal moet uitdien.
Volgens Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, is Van Staden gister (Woensdag 28 April) in die Oudtshoorn Streekhof sewe jaar gevangenisstraf opgelê vir korrupsie, met drie jaar daarvan wat opgeskort is op voorwaarde dat hy nie aan soortgelyke misdade in dié tydperk skuldig bevind word nie. Hy is voorts ’n verdere twee jaar opgelê vir die oortreding van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad (Prevention of Organised Crime – POCA). ’n Verdere vyf jaar vir bedrog is vir vyf jaar voorwaardelik opgeskort.
Hani sê ’n ondersoek tussen 2010 en 2014 deur die Valke se Ernstige Kommersiële Misdaadspan in George het aan die lig gebring dat Van Staden, wat onder meer verantwoordelik was vir die instandhouding van paaie, sy skoonsuster opdrag gegee het om ’n maatskappy onder haar naam te registreer. Hy het die onderneming gebruik om kontrakte bydie munisipaliteit te verkry.
Die waarnemende provinsiale hoof van die Valke in die Wes-Kaap, brig Mushavhaduvha Ramovha, het die vonnis verwelkom.