Vier in hegtenis ná beweerde aanranding van kinders, voorval ontlok sterk reaksie

Bo en onder: Kinders kan gereeld op straat gesien word, veral in die sakekern van die dorp soos Baron van Reede-, Hoog-, Voortrekker en Kerkstraat. Na ’n voorval op Vrydag 13 Februarie 2026, is die kwessie onder ’n vergrootglas geplaas en die erns van die saak ’n besprekingspunt. Foto’s: Die Hoorn Argief

Vier persone is in hegtenis geneem in verband met die aanranding van minderjarige kinders (11 en 13-jaar) tydens ’n voorval wat Vrydag, 13 Februarie 2026, in Oudtshoorn plaasgevind het. Die eerste drie persone word elk beskuldig van drie klagtes van aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Die voorval het nie net reaksie in Oudtshoorn ontlok nie, maar ook oor die hele land, en spanning op sosiale media word aangeblaas deur verskeie plasings wat rasse- en emosioneel gelaaide kommentaar bevat.

Volgens lt-kol Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is ’n 75-jarige man en ’n 52-jarige vrou Sondag in hegtenis geneem, gevolg deur die arrestasie van ’n 58-jarige man Maandag. ’n 43-jarige man is Woensdag in hegtenis geneem. Die klagtes teen die vierde persoon was teen druktyd nog nie bekend nie.

Drie beskuldigdes het reeds onderskeidelik Maandag en Woensdag in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn en die saak is uitgestel tot 23 Februarie 2026 vir verdere ondersoek en formele borgaansoeke. Dit is nog nie duidelik wanneer die vierde verdagte sy eerste verskyning in die hof gaan maak nie.

“Oudtshoorn-polisie het ’n saak vir verdere ondersoek geopen nadat ’n video versprei is wat wys hoe kinders deur volwassenes aangerand word. Die motief vir die voorval vorm deel van die voortgesette ondersoek,” het Pojie gesê.

Hy het bevestig dat die kinders intussen in die sorg van hul ouers geplaas is.

Die SAPD het verder ’n beroep op die publiek gedoen om nie die reg in eie hande te neem nie en om enige misdaad by die naaste polisiestasie of Crime Stop by 08600 10111 aan te meld.

Erna Wagenaar, senior waarnemende skakelbeampte vir die Oudtshoorn Munisipaliteit, het op ’n navraag oor wetstoepassing gesê dat die departement nie op die stadium kommentaar gaan lewer oor die voorval nie.

Nog ’n persoon wat op die video te sien is, het Die Hoorn na Donovan Kleinhans van AfriForum verwys vir kommentaar. Jacques Broodryk het namens AfriForum die navraag beantwoord.

Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, het die voorval veroordeel en gesê die organisasie is bewus van die voorval waarin ’n kind na bewering deur ’n lid van die publiek aangerand is.

“’n Video van die voorval is wyd op sosiale media gedeel waarin onder meer beweer word dat die beweerde aanvaller ’n AfriForum-buurtwaglid is. Die burgerregteorganisasie kan bevestig dat die persoon nie deel van AfriForum se buurtwagstrukture op dié dorp is nie en dat die voorval nie as deel van ’n AfriForum-buurtwagoperasie plaasgevind het nie,” het Broodryk gesê.

Hy het bygevoeg dat AfriForum ’n beroep op die SAPD doen om die voorval deeglik te ondersoek en ook om aandag te gee aan klagtes uit die gemeenskap oor groepe tieners wat na bewering by misdaad betrokke is.

Broodryk het verder gesê AfriForum-buurtwaglede was nie betrokke by enige voorvalle waar pepersproei teen tieners gebruik is nie, maar dat dit moontlik is dat ander lede van die gemeenskap betrokke kon wees.

In ’n Facebook-plasing op Broodryk se profiel het hy gesê die video wat versprei word, wys nie noodwendig die volle konteks van die voorval nie.

“Wat nie wyd gedeel word nie, is wat vooraf gebeur het. Volgens verskeie gemeenskapslede het die betrokke tieners inwoners met messe gedreig en ander met bakstene aangerand vóór die voorval wat op video gesien word,” het hy geskryf.

“Ek praat nie onregmatige optrede goed nie. Enige aanranding moet behoorlik ondersoek en volgens die wet hanteer word. Maar konteks maak saak,” het hy gesê.

AfriForum het egter ’n mediaverklaring Woensdagmiddag uitgereik waarin hulle sê dat hulle ’n klag by Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) teen ’n polisiekonstabel ingedien het vir beweerde pligversuim.

Die verklaring lui dat die einste konstabel na bewering nie gestop het om die situasie te assesseer nie. Hy het ook nie homself as polisiebeampte geïdentifiseer of polisiebystand versoek nie, maar eerder ’n video van die voorval geneem en dit op sosiale media gedeel – ’n stap wat die spanning op die dorp selfs verder laat eskaleer het.

AfriForum versoek Opod nou om ondersoek in te stel na die polisielid se gedrag om te bepaal of dit neerkom op pligsversuim.

Hulle beklemtoon dat hierdie klag nie ’n aanval op die SAPD as ’n instelling is nie, maar eerder ’n oproep tot verantwoording. Die organisasie hou vol dat professionele polisiëring wat reageer wanneer die nood dit vereis, noodsaaklik is.

Volgens die Kinderwet (Wet 38 van 2005) is dit ’n kriminele oortreding om ’n kind te mishandel, aan te rand of te ontvoer. Die Wet bepaal dat kinders beskerm moet word teen enige vorm van geweld en dat hul beste belang altyd eerste gestel moet word.

Persone wat skuldig bevind word aan ernstige aanklagte soos aanranding met die doel om ernstig te beseer, kan strawwe in die gesig staar wat wissel van direkte gevangenisstraf, afhangende van die erns van die oortredings.

Die groter kwessie van kinders sonder toesig
Die voorval het ook weer die fokus geplaas op die kwessie van kinders wat sonder toesig op straat is. Dit beteken nie noodwendig dat kinders op straat woon nie, maar dat hulle soms sonder volwasse toesig in openbare ruimtes is, bedel en/of kattekwaad aanvang, wat hulle kwesbaar maak.

Volgens die Kinderwet het ouers en voogde ’n wetlike plig om hul kinders te beskerm en behoorlik na hulle om te sien. Indien kinders verwaarloos word of aan gevaar blootgestel word, kan maatskaplike dienste ingryp en die saak na die Kinderhof verwys.

Owerhede het ook beklemtoon dat ouers en voogde ’n wetlike plig het om behoorlik na hul kinders om te sien en hul veiligheid te verseker. Volgens nasionale maatskaplike beleid en regulasies wat met die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekuriteitsagentskap (SASSA) verband hou, kan ouers wat versuim om na hul kinders om te sien of hulle verwaarloos, ondersoek word.

In ernstige gevalle, waar bevind word dat ouers nie hul verantwoordelikhede nakom nie, kan dit lei tot ingryping deur maatskaplike dienste. Toelae word dan na voogde of aan veiligheidsouers toegeken wat vir die kinders se versorging verantwoordelik is.

Daar is wel ’n groot tekort aan veiligheidsouers, wat kinders inneem wanneer hulle uit hul ouersorg verwyder word.

Plaaslike besighede spreek kommer uit oor kinders op straat
Verskeie plaaslike besigheidseienaars en werknemers, wat verkies om anoniem te bly uit vrees vir hul veiligheid, het hul ernstige kommer uitgespreek oor kinders wat daagliks sonder toesig in die sakekern rondbeweeg.

Volgens die besigheidseienaars word hulle gereeld deur kinders met wapens soos messe en staalpype gedreig, terwyl voorvalle van diefstal, intimidasie en uittarting algemeen voorkom. Sommige het gesê die kinders is aan hulle bekend aangesien hulle gereeld in die gebied rondbeweeg en winkels binnegaan om items te gryp en weg te hardloop.

“Die kinders sê vir ons dat hulle minderjarig is en dus kan daar niks aan hulle gedoen word nie, voordat hulle lag en weghardloop,” vertel ’n besigheidseienaar.

Een besigheidseienaar sê dat hy al deur ’n kind met ’n mes gesteek is toe hy probeer het om ’n bejaarde oud-skoolhoof te help. Sy geldlaai is ook al gesteel. Ander het gesê sekuriteitspersoneel het hul hande vol en moet daagliks ingryp om diefstal en ontwrigting te voorkom.

Hulle vertel ook dat die kinders klippe en bakstene na hul asook na mekaar gooi. Kliënte en toeriste wat hul besighede besoek, word lastig geval en daar word gebedel.

Een dame vertel dat sy en van haar kliënte gruwelike dade moes aanskou toe ’n jong seun homself voor hul staan en seksueel bevredig het.

Verskeie voorvalle is reeds by die polisie en wets-toepassing aangemeld. Dit blyk dat die kinders dan weggeneem word, maar net later weer terugkom dorp toe.

“Tree ons op teen die kinders, word ons as kriminele beskou en die kinders kom skotvry daarvan af, en die ouers word nie tot verantwoording geroep nie,” het een gesê.

Hulle beklemtoon dat hulle die veiligheid asook dié van werknemers en hul kliënte wil verseker, maar voel dat die situasie kompleks is en dat langtermynoplossings nodig is wat die betrokkenheid van ouers, owerhede en maatskaplike dienste vereis.

Intussen is daar pogings om kinders wat sonder toesig op straat is, te ondersteun. Ná vergaderings tussen die munisipaliteit en rolspelers is ruimte by die St Luigi Scrosoppi Sorgsentrum in Wolfweg beskikbaar gestel om sorg, etes en ondersteuning aan hierdie kinders te bied.

Die program, wat deur die Wes-Kaapse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en Kinderwelsyn bestuur word, het ten doel om kinders van die straat af te neem, hul omstandighede te ondersoek en gestruktureerde aktiwiteite te bied om hulle veilig en besig te hou.

Die sentrum doen ’n beroep op die gemeenskap vir skenkings en ondersteuning om ’n veilige en stabiele omgewing vir kinders in nood te help skep.

Die Hoorn het ook aan verskeie organisasies, persone en instansies navrae gestuur, hier volg hul antwoorde:

Philip Seroux, voorsitter van die Gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF) en die GPF bestuur het gesê hulle neem kennis van die navrae. “Daar is tans ’n kriminele saak wat ondersoek word, en ons wil nie die ondersoek op enige manier benadeel nie.”

Gemeenskapsleier en raadslid, Leon Campher het by navraag van Die Hoorn gesê dat die gemeenskap omgekrap is deur die optrede van die betrokke persone. “Hulle moes eerder na die polisie gegaan het sodat die polisie die situasie kon hanteer.”

Hy voeg by dat kinders wat rondloop en bedel ’n probleem is, en in sommige gevalle weet die ouers nie waar hulle is nie, of die kinders jok vir die ouers oor waar hulle is.

“Ongelukkig weet ons van verskeie voorvalle waar kinders wat op straat rondloop, asook mense wat op straat is deur persone aangerand word. Ongelukkig is baie mense te bang om daaroor te praat. Die landswette is daar vir ’n rede en die polisie moet gebel word om op te tree,” sluit hy af.

Sonia le Roux Henkeman wat die video gemaak het, asook Dwayne Venter wat op die video te sien is, het nie op boodskappe van Die Hoorn gereageer nie. Hulle het wel elkeen afsonderlik op sosiale media verklarings geplaas.

Terwyl die saak nou deur die hof hanteer word, het Die Hoorn ’n doelbewuste besluit geneem om nie die name van die volwassenes wat aangekla is, te publiseer nie.

Dit is nie ’n poging om mense te beskerm nie, maar is ’n verbintenis tot verantwoordelike beriggewing en tot die grondwetlike beginsel dat geregtigheid in ’n hof van reg moet geskied, en nie in die hof van openbare mening nie.

Dus is dit ’n wettige uitoefening van redaksionele diskresie. Hierdie benadering stem ooreen met professionele joernalistieke standaarde en die riglyne van die Perskode oor die beriggewing van sensitiewe sake. (ANGELIQUE ERASMUS)