Raad stem Allers uit

Johan Allers is Woensdag 18 Februarie as uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn uit sy pos verwyder nadat ’n mosie van wantroue tydens ’n spesiale raadsvergadering geslaag het.

Die mosie is met 11 stemme teenoor ses aanvaar. Die DA het nie aan die stemming deelgeneem nie.
Zoë (Mziwoxolo) Tyatya sal intussen as waarnemende burgemeester van die Groter Oudtshoorn dien totdat ’n nuwe burgemeester tydens ’n volgende raadsvergadering verkies word.

Allers het na afloop van die vergadering gesê hy glo die mosie was “duidelik polities gemotiveerd” en nie gebaseer op objektiewe administratiewe of bestuursfeite nie.

Hy voer aan dat sy bestuur ernstige onreëlmatighede en moontlike bedrog blootgelê het, wat volgens hom gevestigde belange geraak het.

“Wanneer korrupsie en wanpraktyke oopgevlek word, word daar onvermydelik op tone getrap,” het hy gesê.

Hy het ook kritiek uitgespreek teen die DA se besluit om nie te stem nie en gesê dit het die mosie indirek ondersteun.

Allers het bevestig dat hy nie die demokratiese proses sal betwis nie en geen regsaksie beplan nie. “Die publiek sal self besluit wie in belang van die dorp opgetree het,” het hy gesê.

Spesifieke bewerings aangespreek
Rakende bewerings oor die vervreemding van parke en oop ruimtes, het Allers gesê alle besluite is tydens volwaardige raadsvergaderings geneem en deur die raad goedgekeur.

Oor die aan-stelling van ’n lid van die museum-raad, ontken hy dat enige onwettige aanstelling gemaak is en sê dit was deel van ’n kollektiewe besluitnemings-proses ingevolge geldende beleidsraam-werke.

Met betrekking tot ’n funksie by die Kango Grotte, het hy gesê verskeie raadslede was teenwoordig en dat daar geen bewese onreëlmatigheid rondom fondse was nie.

Allers het gesê dat die speaker, die onderburgemeester en verskeie raadslede self teenwoordig was. Die munisipaliteit het ook op sy amptelike sosiale media daaroor berig.

“Ek het tydens Woensdag se vergadering selfs ’n foto getoon wat hul teenwoordigheid bevestig,” het hy bygevoeg.

Wat bewerings van ongemagtigde, onreëlmatige en vermorste uitgawes betref, het Allers gesê enige moontlike onreëlmatighede behoort deur toepaslike ondersoekliggame hanteer te word. Hy het aangedui dat sekere aangeleenthede by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangemeld sal word vir onafhanklike ondersoek.

Ten opsigte van die Grobbelaarsrivier-projek het Allers gesê die inisiatief is oorspronklik in 2021 aangekondig deur die destydse burgemeester, Chris Macpherson.

Hy verwys na ’n berig in Die Hoorn van 20 Mei 2021 waarin Macpherson die visie uiteensit om die rivier te rehabiliteer en as toerismeaantreklikheid te ontwikkel.

Volgens Allers is die raad deurentyd oor die geskiedenis en ontwikkeling van die projek ingelig.
Allers het verduidelik dat alle aanstellings volgens geldende munisipale beleidsraamwerke en prosedures gedoen is.

Hy het bygevoeg dat sy mediabeampte se kwalifikasies op rekord is en bewys, en dat die aanstelling op grond van toepaslike oorwegings en meriete plaasgevind het.

Allers het beklemtoon dat die fokus op dienslewering en stabiliteit bly, en dat politieke gebeure nie die belange van die gemeenskap mag benadeel nie.

Oor die koalisie tussen ander partye het hy gesê dat vertroue en beginsels die basis is, en dat die gebeure ’n herbesinning oor samewerking en verhouding sal meebring.

Stabiliteit en deursigtigheid
Die speaker van die Oudtshoorn Munisipaliteit, Suzane Jansen, het gesê haar fokus bly op die handhawing van die Grondwet, die raad se gedragskode en gevestigde prosedures om politieke stabiliteit te verseker.

“Stabiliteit kom wanneer prosesse gerespekteer word, wanneer alle partye billik behandel word en wanneer besluite deursigtig geneem word,” het sy gesê.

Sy verseker dat die raad professioneel en deursigtig funksioneer deur streng nakoming van die raad se reëls, billike voorsitterskap tydens vergaderings, en die beskerming van elke raadslid se reg om hul mandaat uit te voer.

Sy het bygevoeg dat sy ook rekordhouding, openbare toegang tot inligting en ordelike besluitneming bevorder.

Sy het inwoners verseker dat dienslewering nie onder die politieke ontwikkelinge mag ly nie en dat administratiewe kontinuïteit beskerm sal word.

ANC ondersteun mosie
Die African National Congress (ANC) het bevestig dat die party die mosie van wantroue ondersteun het.
Volgens die ANC se Victor Molosi-streekwoordvoerder, Moyisi Magalela, is die mosie tydens die spesiale raadsvergadering van 18 Februarie aanvaar.

Die ANC het die besluit verwelkom dat die onderburgemeester as waarnemende burgemeester sal dien totdat ’n nuwe burgemeester verkies word.

“Ons is vol vertroue dat hierdie verwikkelinge nie dienslewering aan die gemeenskap van Oudtshoorn sal ontwrig nie,” lui die verklaring. Teen druktyd is daar egter nog nie terugvoering van die DA ontvang nie.

Die munisipaliteit beweeg voort binne die raamwerk van gevestigde prosesse en regulasies, met die doel om politieke dinamika te bestuur sonder dat dit die lewering van dienste aan inwoners ontwrig. (ANGELIQUE ERASMUS EN MALISSA SPIES)