
Die brand buite Prins Albert Maandagmiddag tussen 15:00 en 16:00 nadat dit bo-oor ‘n brandpad gespring en net aanhou brand het. Foto: Jan Marais
Die verwoestende brand wat Sondag digby die plaas Scholtzkloof buite Prins Albert begin het, is onder bedwang, maar smeulende kole word dopgehou om te keer dat dit weer in winderige toestande opvlam.
So sê Anneleen Vorster, munisipale woordvoerder van Prins Albert en bestuurder: korporatief en gemeenskapsdienste.
Die oorsaak van die brand wat sowat 1 km van Prins Albert aan die R407 – tussen Prins Albert en Klaarstroom – gewoed het, is nog nie bekend nie, Volgens die onderburgemeester en DA-raadslid Linda Jaquet word egter bespiegel oor moontlike brandstigting deur sigaretstompies wat in die beboste gebied by die ingang na die Swartbergpas neergegooi is of deur houtkappers wat in die omgewing bedrywig was – dit terwyl Prins Albert nie oor die nodige brandbestrydingsmannekrag en -apparaat beskik om groot vure in die erg beboste en bergagtige gebiede buite die dorp te blus nie.
‘n Groot gebied vol veldplante en bosse is verwoes, en die eienaar van die toeristeoord Bushman Valley, Ian Uys, moes alles in die stryd werp om die vlamme van die perseel te hou, volgens Jaquet. Bushman Valley is net oorkant die ingang na die Swartbergpas geleë.
“Twee van ons personeellede gaan volgende week vir ‘n weeklange opleidingskursus in brandbestryding met die nuwe brandbestrydingsvoertuig,” het Vorster gesê.
“Hulle bring dan die voertuig terug Prins Albert toe. Ons het baie goeie ondersteuning van die kontrakteurs ASLA en HENRA gehad, sowel as van Lutzkie Boerdery van Prins Albert. Op die ou end het ons dus veel meer watertenks en brandbestrydingsapparaat as ooit tevore gehad, of wat ons-sekerlik ooit weer sal hê. Die wind was egter teen ons en die terrein was nie begaanbaar nie. Ons beskik nie oor mannekrag om in te stuur om brandbestryding in beboste en bergagtige gebiede te doen nie. Ook nie noodwendig oor die basiese toerusting vir so iets nie.
“Die munisipaliteit se personeel, NARYSEC-studente (National Rural Youth Service Corps – Nasionale Landelike Jeugdienskorps) en EPWP-werkers (Expanded Works Programme – Uitgebreide Werksprogram) het hulle egter uitstekend van hul taak gekwyt. Alles is in die stryd gewerp om te verseker dat die brand nie oor die koppie na die dorp of na die watersuiweringswerke versprei nie. Die brand is deur die nag gemoniteer en word steeds dopgehou om smeulende kole in bedwang te bring.”
Vorster het gesê die munisipale owerheid wil graag die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning. “Dit word opreg waardeer.”
Volgens Jaquet moet alle inwoners van Prins Albert water spaarsamig gebruik om te verseker dat daar genoeg water beskikbaar is in dié droë tyd, en vir ingeval die vuur weer opvlam.
Prins Albert en die omliggende gebied is verlede jaar tot ‘n droogterampgebied verklaar.
(Berig deur Marlene Malan)