Vermeulen-praktyk, die beste 3

Bo: Dr Kobus Venter en sy vrou, Vivo met hul twee kinders, Francois en Anna-May. Dr Venter het in Februarie 2024 by Vermeulen Praktyk aangesluit. Hy en sy gesin bly reeds 4 jaar op Oudtshoorn en hou baie van die Klein Karoo se mense. Foto’s verskaf Onder: Dr Jakes Maritz saam met sy vrou Karien en hul twee kinders Klara-Mari en Nicolaas. Die gesin se twee honde Bella en Lilly is saam met hulle op die foto.

Vermeulen-praktyk spog met drie voltydse vennote. Dr Wessel Vermeulen het in 2013 die praktyk se deure by die Mediclinic op Oudtshoorn oopgemaak.

In 2023 sluit dr Jakes Maritz by die praktyk aan. Dr Maritz is reeds ’n geruime tyd ’n bekende en gerespekteerde dokter in Oudtshoorn, nadat hy en sy gesin vir ’n wyle oorsee gewerk het. Sy vrou, Karien is ’n fisioterapeut op Oudtshoorn.

Die nuutste vennoot is dr Kobus Venter, wat as die derde vennoot in Februarie 2024 by hul aangesluit het.

Dr Venter en sy vrou Vivo, is agt jaar getroud, en reeds 4 jaar op Oudtshoorn, waar hy as Senior Mediese Beampte by die Provinsiale Hospitaal gewerk het.

“Ons het ons harte op Oudtshoorn en die gemeenskap hier verloor, en die dorp is die perfekte plek om ons twee kinders, Francois (4) en Anna-May (2) groot te maak,” vertel hy.

Dr Venter het in Alberton, in Gauteng grootgeword, en medies gaan studeer na skool aan die Universiteit van Vrystaat, ook bekend as Kovsies.

Tydens sy gemeenskapjaar by die Pietermaritzburg kompleks, verwerf hy ’n nagraadse Diploma in Anestesiologie (narkose) en praktiseer daarna vir twee jaar as narkotiseur.

Daarna verhuis hy en sy vrou na Oudtshoorn.

Terwyl hy by Oudtshoorn Hospitaal werk studeer hy verder en aan die einde van 2023 verwerf hy sy graad in Huisartskunde aan die Universiteit van Stellenbosch.

Sy vrou hou tans skool by Hoërskool Oudtshoorn, en het intussen haar onderwyssertifikaat verwerf. Sy het vir Kobus by Kovsies ontmoet toe albei daar studeer het.

Sy het ’n honneursgraad in Omgewingsgeografie en het vir twee jaar voltyds aan die universiteit van België studeer waar sy ’n meestersgraad in Biologiese diversiteitsbewaring verwerf het.

Die paartjie is lief daarvoor om te reis, in Suid-Afrika en ook oorsee.

“Ons grootste avontuur is dié van ons twee kinders,” vertel dr Venter.

Benewens reis kweek hul graag verskillende soorte groente en vrugte in hulle tuin, en geniet die natuur en buitelewe met jag-, stap-, kamp- en visvanguitstappies.

“Ek is seker dat ons pasiënte hierdie nuwe dokter en sy gesin met ope arms sal verwelkom,” sê dr Wessel Vermeulen.

Volgens hom is beide se uitstekende kwalifikasies nie net ’n bewys van hul fantastiese karakters nie, maar voldoen hul ook aan die persoonlike vereistes wat hy van sy vennote verwag.

Hierdie vereistes is goeie opvoeding, ou-wêreldse maniere, hardwerkendheid, nederigheid, empatie en ’n opregte en intense belangstelling met vaste geloof en vertroue in die Hemelse Vader sonder wie hulle hul roeping as geneeshere nie kan volvoer nie.

“Vermeulen Praktyk is gebaseer op wedersydse respek, lojaliteit, onverbiddelike ondersteuning, eerlikheid en vertroue tussen genees-here en pasiënte,”

Oudtshoorn se inwoners sien uit daarna om die Venters as deel van die Klein Karoo-familie te verwelkom.

Kontak dr Wessel Vermeulen-praktyk gerus by: 044 279 1090.