Verdagte sterf in aanhouding

VERRIGTINGE in die saak teen ’n man van Oudts­hoorn wat tereg gestaan het op klagtes van huisbraak, poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en poging om ’n seksuele daad met ’n 12-jarige meisie te pleeg, is in die Oudtshoorn Streekhof ná die dood van die beskuldigde beëindig.

Andries Van Mansdorff (27) het glo op 3 Oktober 2020 by ’n huis in Mullerstraat, Bridgton, ingebreek.
Hy het 65-jarige man na bewering met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan; sy seun met ’n hamer probeer slaan en ook probeer om ’n seksuele daad met ’n minderjarige te pleeg.

Hy het onskuldig gepleit op al die aanklagte.

Die staatsaanklaer Anzelle Laubscher het die hof meegedeel dat Van Mansdorff, wat sedert die voorval in aanhouding was, op 8 Oktober aan natuur­like oorsake oorlede is.

Streeklanddros Ntsoki Moni het daarna beslis dat hofverrigtinge in die saak gestaak word. (Deur Garnett Wicomb)