Van Wyksdorp-roof: Drie nou na vier lange jare skuldig bevind

Die Hyundai-minibus wat omgeslaan het toe die verdagtes vir die polisie probeer wegjaag het. Foto verskaf

DIE drie mans wat op Vrydag 23 Junie 2017 betrokke was by ’n gewapende roof by die Twaksak Supermark op Vanwyksdorp, is Maandag in die Oudtshoorn Streekhof skuldig bevind op verskeie aanklagte.

Tydens die rooftog is George van Tonder, eie­naar van die Twaksak Supermark, oor sy kop geslaan en van meer as R260 000, sigarette, ’n duur selfoon, skootrekenaar en sy Ford Ranger-bakkie beroof.

Die drie mans, Zuka Martin (30) van Cradock, Liberty Mpala (31) van Kuilsrivier en Malavine Simakade (29) van Langa, het tereg gestaan op ’n klagte van roof met verswarende omstandighede, een van diefstal van ’n motorvoertuig, een van die besit van ’n vuur­wapen, drie van die besit van verbode vuur­wapens en een van die onwettige besit van ammunisie.

Hulle sal op 15 November gevonnis word.

Hulle is na die rooftog deur die polisie van Ladismith agterna gesit.

’n Skietery het gevolg en twee van die mans in die bussie het gesterf toe dit omgeslaan het. Van Tonder het getuig dat die rooftog fyn beplan was en sy werknemers steeds bang is om alleen te werk.

’n Ontslagaansoek in terme van Art 274 van Mpala se regsverteenwoordiger, adv Benito Metembo, is deur die hof van die hand gewys.

Mpala het aangevoer dat hy ’n taxibestuurder is wat deur mense gehuur is om hulle na Vanwyksdorp te neem.

Streeklanddros Retha Pretorius het Martin en Simakade Maandag op vier van die aanklagte en Mpala op twee skuldig bevind en vonnisverrigtinge uitgestel tot 15 November. (Deur Garnett Wicomb)