Kamer vergader by interessante Boomhuis

Die nuwe lede van die Oudtshoorn Besigheidskamer saam met die verteenwoordigers van beide die organisasie en die Boomhuis is van links Pieter Coetzer van Build-it; Hannes Viljoen van Pinnacle Systems; Bert Verlinde van Verlinde Properties; Freddie Burger van Bakgat Biltong en Deli; Stephnie McKay, voorsitter Eden Tweekamp; Jolandi Visagie, Boomhuis operasionele bestuurder; Dave van der Walt, operasionele bestuurder Eden Tweekamp; Isidore Langenhoven van Rawson Eiendomme; en Abrie Ferreira van die Oudtshoorn Besigheids-kamer. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE Boomhuis in Victoriastraat, Oudtshoorn was Donderdagaand (30 September) ’n miernes van bedrywigheid toe dié interessante instansie gasheer gespeel het vir die Oudtshoorn Besigheidskamer se maandelikse netwerkaand.

Dit was nie net ’n “eye-opening” verrassing vir sakelui van regoor die dorp om meer uit te vind oor waaroor die Boomhuis en die organisasie Grow One Africa gaan en waarvoor hulle staan nie; maar ’n verdere onverwagse item op die agenda was die aankondiging dat Jaco Vorster as voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer moet terugstaan.

Vorster het verduidelik dat hy homself beskikbaar gestel het as kandidaat in die komende plaaslike verkiesing en dat hy daarom nie verder by die Besigheidskamer betrokke kan wees nie. Stephan Cornelissen, voormalige ondervoorsitter, sal die leisels by Vorster oorneem.

“Wat die Besigheidskamer doen, moet altyd onafhanklik wees van die politiek, en daarom kan ek nie verder as voorsitter dien nie. Dit maak nie saak wie op die raad sit nie; hulle moet met ywer kan leierskap neem en besighede ondersteun. Hulle moet die ekonomie kan bevorder,” het hy gesê.

Tydens die aand se verrigtinge is nuwe lede wat by die Besigheidskamer aangesluit het ook voor­gestel en het verteenwoordigers van onderskeidelik die Boomhuis en Grow One Africa die gehoor ingelig oor die voordele van cannabis en hemp vir individue se fisieke en geestelike gesondheid asook die potensiaal wat dit vir die ekonomie van enige omgewing kan inhou.

Besoek www.boomshop.co.za of WhatsApp 064 83409735 om self meer uit te vind. (Deur Stefan Skapie Goosen)