Van bottel tot boekrak: Carel Nel se reis in woorde

Tydens ’n privaat ge-leentheid by Boplaas se wynkelder in Calitzdorp het Carel Nel, eienaar en keldermeester, sy boek bekendgestel.

Hierdie persoonlike werk bied lesers ’n blik op Carel se lewe, familie en loopbaan in boerdery en wynmaak.

Die bekendstelling was ’n gesellige viering, bygewoon deur familie, vriende, kollegas en die uitgewerspan. Bekende name uit die Suid-Afrikaanse wynbedryf was ook onder die gaste, waaronder Danie de Wet van De Wetshof Estate, Carl Shulz en Bartho Eksteen.

Die boek, ’n Reis – Familie, Vriende en Wyn: ’n Dankbare terugblik op ’n geseënde lewe, is ’n versameling verhale, persoonlike herinneringe en beskrywings van Carel se baanbrekerswerk oor dekades in die wyn- en landboubedryf.

Dit bied lesers ’n blik op die geskiedenis van Boplaas en die passie wat een van die bedryf se mees gerespekteerde figure gedryf het. Tydens die bekendstelling het Danie sy vriend geprys vir sy besluit om die pen op te neem.

“Die boek lewer ’n belangrike bydrae, aangesien Carel se eerstehandse weergawe van boerdery en wynmaak selde so deeglik opgeteken is.”

Danie het ook die voorwoord tot die boek geskryf. Ander bydraers sluit in Winnifred Bowman, Willie Marais, Loftie Ellis, asook Carel en Jeanne Nel se kinders, Rozanne, Daniel en Margaux.

Michael Fridjhon dra ook by, en verduidelik dat Carel se dryfkrag en toewyding, saam met sy doelgerigt- heid en bereidwilligheid om by die Anglo-Portugese meesters te leer, hom gehelp het om die onwaarskynlike droom van wêreldklas portstyl-wyne uit Calitzdorp en die Kaap waar te maak.

“Dit is veral danksy hom dat Boplaas vandag internasio-naal erken word as een van die wêreld se voorste produsente van versterkte wyne.”

Hoewel die boek nie te koop is nie, sê Carel dit was nooit sy bedoeling om ’n kommersiële uitgawe te skep nie.

“Ek is geïnspireer deur my vriend Piet Beyers se werk en wou bloot my ervarings en die lesse wat ek geleer het, bewaar vir die volgende geslag. Hopelik dra dit ook iets by tot Calitzdorp se geskiedenis en inspireer dit toekomstige skrywers,” sê hy.

’n Beperkte aantal eksemplare is in sekere biblioteke beskikbaar, en die boek word só reeds as deel van Suid-Afrikaanse wynkultuur se geskiedkundige erfenis beskou.

Sedert die bekendstelling, vertel Carel, het hy talle gesprekke gevoer met lesers wat ook hul eie lewens-reise met hom gedeel het.

“’n Mens leer baie van jouself,” vertel Carel. “Die titel van die boek herinner my daaraan dat die lewe inderdaad ’n wonderlike reis kan wees.” Die werk is Carel se eerste publikasie, en hy beskryf die ervaring as “’n bietjie soos vlieg”, iets waar-oor hy met humor en deernis in verskeie hoofstukke skryf.

’n Reis – Familie, Vriende en Wyn bevat 234 bladsye en sowat 500 foto’s uit vriende en die Nel-familie se persoonlike albums. Die boek is uitgegee deur Tip Africa Publishing.