
Tydens die eerste openbare vergadering Dinsdagaand in die banketsaal op Oudtshoorn, oor die voorgenome verkoop van munisipale erwe, persele en parkies, het inwoners die kans gehad om hul sê te sê.
Sowat 120 inwoners het die vergadering bygewoon, wat deur Oudtshoorn se burgemeester, Johan Allers, gelei is.
Aanvanklik het gemoedere hoog geloop. Gerugte dat erwe en areas wat op veilings aangebied gaan word, vir lae-koste behuising gebruik gaan word, is bespreek en daar is duidelikheid daaroor gegee.
Een inwoner het ook genoem dat daar onderskeid gemaak moet word tussen lae-koste behuising en lae-inkomste behuising.
Nog ’n voorstel was dat van die eiendom geïdentifiseer moet word om behuising vir veterane beskikbaar te stel.
Johan Allers het egter gevra dat elke eiendom een vir een bespreek moet word, sodat inwoners kan stem oor elke parkie en insette kan lewer oor of daar probleme ondervind word en of dit vir die inwoners in die area voordelig sal wees of nie.
Daar is egter tydens die vergadering besluit dat alle parkies, behalwe een, as parkies behou gaan word.
Die enigste parkie in Oudtshoorn wat vir verkoop aangebied gaan word, is in St Saviourstraat geleë.
Inwoners van die area het verskeie probleme en veiligheidskwessies daaroor genoem.
Daar is voorgestel dat die speeltoerusting in die park na Helen Bellinganhof verskuif word, sodat inwoners van die tehuis se kleinkinders daar kan speel wanneer hulle ouers vir hul oumas en oupas kom kuier.
Nog ’n parkie tussen Jan van Riebeeck- en Tautestraat sal gedeeltelik hersoneer word, sodat die huiseienaar wie se eiendom daaraan grens, dit kan aankoop as deel van sy eiendom. Die area is nie geskik vir bou of behuising nie weens die grootte van die afgesnyde stuk.
Alhoewel die vergadering hoofsaaklik vir publieke deelname rakende die opveil van 54 erwe gehou is, is ander kwessies ook opgehaal, soos die stand van paaie en slaggate, asook die riooltariewe wat vroeër opslae gemaak het.
Daar is ook gevra oor die implikasies van Oudtshoorn se rioolaanleg, en ander infrastruktuur, met die moontlikheid van bykomende huise.
Die vergadering het net voor 20:00 verdaag.
Die tweede vergadering het Woensdagaand plaasgevind by die Thusong-sentrum in Bridgton met die derde vergadering Donderdag in die Dysselsdorp-gemeenskapsaal. Beswaarvorms moes voor of op 13 November by die Munisipaliteit ingedien word. (ANGELIQUE ERASMUS)