Combrinck Tuinroete-Polisieman van die Jaar

Onder: Magz en Jan Combrinck tydens ’n spesiale fotosessie om hul 20ste huweliksherdenking te vier. Foto: Baruch Photography. Heelonder: Jan Combrinck (middel) en lede van die Spiritual Crime Prevention (SCP) tydens ’n geleentheid om die doelstellings van die program aan die publiek bekend te stel. Foto: Die Hoorn Argief

Oudtshoorn se eie adjudant-offisier Jan Combrinck is verlede week aangewys as die Tuinroete-distrik se Polisieman van die Jaar. Die Tuinroete-distrik se Prestige-toekennings is op 5 November in George by die George Metodiste Kerk gehou.

Manne en vroue in blou vanoor die hele Tuinroete is vereer vir uitmuntende diens, en vir die ekstra myl wat hulle vir hul gemeenskap stap.

Combrinck, van die Oudtshoorn SAPD, en verteenwoordigers van 20 ander polisiestasies in die distrik het die geleentheid bygewoon. Daar was 18 verskillende kategorieë wat bestaan het uit administrasie, sigbare polisiëring en operasies, ondersoekbeamptes en spesiale toekennings.

Combrink, wat reeds 23 jaar in die Polisie is, is ’n bekende gesig in die gemeenskap, en betrokke by verskeie projekte wat daadwerklike pogings tot gemeenskapsveiligheid ondersteun.

“Dit is vir my ’n voorreg om dit te ontvang. Al die eer gaan aan God, want ek is net sy instrument. Alles wat ek doen, doen ek uit liefde vir die gemeenskap. Jy kan nie sê jy het almal lief maar jy lewe nie God se liefde uit nie,” vertel Combrinck. Hy verduidelik dat die polisie en gemeenskap saam moet werk om misdaad te bekamp.

Jan is ook deel van die SCP (Spiritual Crime Prevention) groep, wat gereeld inligtingsessies in Oudtshoorn se gemeenskappe hou, asook uitreike waar daar mense bedien word met gebed, asook gereelde sopkombuise. Die groep fokus op samewerking tussen gemeenskappe, geestelike leiers en die polisie om misdaad te bekamp.

Vroeër vanjaar was Combrinck na-mens die SAPD betrokke by ouerinligtingsessies in Calitzdorp.
Boodskappe van gelukwensing het op Die Hoorn se Facebook-blad ingestroom. Onder andere het Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Johan Allers, geskryf: “Baie trots op jou, Jan. Baie geluk”.
Erik Steele het bygevoeg: “What a man, what a victory for a child of God that deserves every milestone that this is for him. Super proud of you, Janneman!”.

Timotheus Donson het geskryf: “Daars hy oom Jan baie geluk my broer hou aan die beste diens lewer!”
Ranger Grebe, wat saam met Combrinck betrokke is by die SCP het die volgende gesê: “Baie geluk Jan. Ons is trots op jou! Die wêreld het Godvresende leiers op alle gebiede nodig, dít is die antwoord vir ’n gebroke wêreld. Dankie Jan dat jy jou posisie inneem en ’n lig is in ’n donker plek. Hou aan om jou lig te laat skyn. Jesus is die antwoord vir ’n gebroke wêreld!” Hy het afgesluit met die volgende teksvers: “Maar soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Matteus 6:33.

André Nel, van Kingdom Culture, het Combrinck gelukgewens met sy toekenning. “Dankie dat jy altyd bereid is om te help en ’n verskil te maak in die gemeenskap,” sluit Nel af.

Tuinroete-distrik kommissaris, majoor-generaal Phumzile Cetyana, wat ook die geleentheid bygewoon het, het die volgende in ’n mediaverkla-ring gesê:

“Ek is ongelooflik trots op al die hardwerkende, lojale en toegewyde SAPD-lede in die distrik. Tesame het hulle ‘n oorvloed ervarings. Hierdie spanne word ondersteun deur uitsonderlike eksterne rolspelers, ’n effektiewe gemeenskapspolisiëringsmeganisme en verskeie gemeenskapveiligheidsstrukture. Hul pogings is duidelik sigbaar in die aantal suksesvolle prestasies gedurende die afgelope jaar. Soos die feesdae nader, sien ons uit daarna om almal aan boord te hê as deel van ons Veiliger Feestyd-plan om ons gemeenskappe te beskerm,” het majoor-generaal Cetyana gesê.

Combrinck en sy vrou, Magz, het ook op 1 Oktober hul 20-jaar huweliksherdenking gevier. Hul dogter, Meagan, het die spesiale herdenking in ’n pragtige fotosessie vasgelê. Beslis ’n hoogtepunt om die jaar mee af te sluit. (ANGELIQUE ERASMUS)