Herlewing van buurtwagte kan nuwe hoop vir veiligheid bring

Foto verskaf

AfriForum Oudtshoorn het onlangs ’n vergadering bygewoon vir alle POCS- en GPF-buurtwagte vanaf Oudtshoorn tot De Rust, gehou in die SAPD se raadsaal. Die vergadering is byeengeroep en gelei deur Timothy Prins van POCS.

Prins het bevestig dat hoewel POCS reeds meer as 1 000 geregistreerde buurtwagte landswyd het, daar ’n merkbare afname in die Suid-Kaap is, veral in Oudtshoorn. Hoewel Oudtshoorn twee, en Dysselsdorp en De Rust elk een geregistreerde POCS-buurtwag het, is die meeste van hierdie strukture onaktief en hul registrasie het verval.

POCS beoog om deur meer gereelde vergade-rings en groter deelname die buurtwagte in die Oudtshoorn-omgewing te heraktiveer, asook om nuwe buurtwagte te registreer. Registrasievorms is uitgedeel en bespreek.

’n Minimum van tien persone wat bereid is om aktief te patrolleer, is nodig om ’n buurtwag te registreer, en almal moet vooraf polisieklarings voltooi.

POCS voorsien toerusting, opleiding en soms ook befondsing aan aktiewe buurtwagte.

Hoewel AfriForum nie ’n geakkrediteerde POCS-buurtwag is nie, bestaan daar ’n memorandum van verstandhouding (MOU) tussen die twee organisasies, saam met ’n sterk geskiedenis van samewerking.

POCS het dit beklemtoon en AfriForum geloof vir volgehoue samewerking regdeur die Wes-Kaap.

Volgens POCS se personeel deel AfriForum-buurtwagte gewillig inligting, kennis en soms toerusting en ander hulpbronne.

POCS-buurtwagte is aangemoedig om met AfriForum saam te werk, en AfriForum het ’n voorstel vir beter skakeling tussen alle buurtwag-leiers aan die vergadering voorgelê.

Volgens die POCS-span is een van die groot voordele van samewerking met AfriForum dat misdadigers letterlik skrik wanneer AfriForum Buurtwag saam met die plaaslike buurtwag opdaag. Intussen het inwoners van die Donkerhoek-informele nedersetting in Dysselsdorp self die stryd teen misdaad opgeneem.

Na ’n toename in diefstal en dwelmverwante aktiwiteite het ’n groep inwoners Vrydag-aand met patrollies begin. SAPD-lede het die span ontmoet en tydens hul teenwoordigheid is twee verdagtes vir oproerige gedrag en openbare dronkenskap gearresteer.

Volgens gemeenskapslede is daar planne om strukture waarin gesteelde goedere versteek word, te verwyder, en onwettige of onbewoonde strukture waarin jongmense sonder toesig bly, aan te spreek.

South Cape Wireless het aangebied om die inwoners van flitse, tasers en reflektiewe baadjies te voorsien.

Met die bystand van SAPD hoop die gemeenskap om die projek na ander gebiede uit te brei waar straatkomitees reeds begin vorm aanneem het.