Meer as ’n dekade na die misdaad het ’n DNS-toets Shaun Romano Keyser uiteindelik as die man geïdentifiseer wat 55-jarige Anna Abrahams in 2012 in Prins Albert verkrag en vermoor het. Keyser is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof tot twintig jaar tronkstraf gevonnis.
Keyser het op 11 Februarie 2012 die 55-jarige Abrahams naby ’n smokkelkroeg in Buitekant-straat, Prins Albert, verkrag en vermoor.
Die 29-jarige is eers in 2024 in hegtenis geneem nadat hy vir ’n ander misdaad vasgetrek is, en sy DNS het hom aan die verkragting van Abrahams verbind. Hy het beweer dat hy deur twee mans gedwing is om die daad te pleeg, maar die hof het sy verklaring verwerp.
Die dogter van die oorledene, Marita Abrahams, het die hof versoek om ’n swaar vonnis op te lê. Voor vonnisoplegging het Keyser vergifnis van die familie gevra. Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek vir ’n vonnis van ten minste vyftien jaar.
“Die gemeenskap verwag van die howe om oortreders swaar te straf vir ernstige misdrywe soos verkragting en moord,” het Goulding gesê. Streeklanddros Ntsoki Moni het hom tot tien jaar vir verkragting en tien jaar vir moord gevonnis.
Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (GARNETT WICOMB)
Uit die hof: DNS-toets vir ander misdaad lei tot geregtigheid vir moord en verkragting
