Die verwydering van raadsheer Johan Allers, leier van die VF Plus in Oudtshoorn, as uitvoerende burgemeester van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit verander niks aan die bestaande formele klagtes oor finansiële en administratiewe onreëlmatighede nie.
Hierdie klagtes is reeds by die toepaslike wetstoepassingsowerhede aanhangig gemaak, en die bewyse is aan die Valke oorhandig.
Ondersoeke na beweerde oortredings van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA), moontlike administratiewe en regulatoriese onreëlmatighede, bedrog en korrupsie gaan steeds voort, onafhanklik van politieke veranderinge in die raad.
Dinsdag, 24 Februarie, het die Valke onderhoude gevoer met raadsheer Allers in sy hoedanigheid as klaer en relevante dokumentasie bekom oor die aard van die klagtes, wat onder meer verband hou met korrupsie, finansiële wanbestuur en nalatigheid.
Hierdie klagtes hou onder meer verband met beweerde korrupsie, moontlike finansiële wan-bestuur, bedrog, nalatigheid en ander beweerde oortredings wat volgens die beskikbare inligting verdere ondersoek regverdig.
Die ondersoek spruit nie uit onlangse politieke gebeure nie, maar uit aangeleenthede wat reeds vroeër aanhangig gemaak is.
Die kernpunt bly dat alle bewyse nou by die Valke is en die ondersoek onafhanklik van politieke magsverskuiwings voortgaan.
Munisipale wetstoepassingsbeamptes het op Dinsdag, onder die leiding van waarnemende munisipale bestuurder Sinya Jonas, die wonings van kantoorpersoneel wat verband hou met raadsheer Allers besoek.
Tydens hierdie besoeke word briewe oorhandig waarin versoek word dat enige dokumentasie wat verband hou met die administrasie of sake van die munisipaliteit, by die kantoor van die munisipale bestuurder ingedien word.
Die dokumentasie in raadsheer Allers se besit is reeds as deel van die formele klagte aan die Valke oorhandig.
Valke ondersoek munisipale wanbestuur in Oudtshoorn
Raadsheer Johan Allers was Dinsdag, 24 Februarie, in gesprek met senior offisiere van die Valke. Foto verskaf.