Malica Malherbe dra SA se kleure met trots by Olimpiese Winterspele

Malica Malherbe in aksie tydens die 2026 Olimpiese Winterspele in Italië. Foto: Michael Reaves
Malica Malherbe saam met haar ouers, dr. Gerhard Malherbe en dr. Carin Strydom, wat haar trots in Suid-Afrikaanse kleure ondersteun het. Foto verskaf.

Vir die 21-jarige Malica Malherbe was dit “soos ’n droom” toe sy hoor sy is gekies om Suid-Afrika by die 2026 Olimpiese Winterspele in Italië te verteenwoordig.

“Dit het eers nader aan die tyd begin realisties voel,” vertel sy glimlaggend.

Malica het haar Olimpiese debuut gemaak by die Winterspele in Milaan Cortina 2026, waar sy 27ste geëindig het in die Vroue Moguls-kwalifisering ná ’n sterk tweede lopie van 58.86 punte in Livigno.

Team South Africa, die amptelike Facebook-blad van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee, het haar gelukgewens met haar vertoning in die vroue vrystyl-ski en dit as ’n “fantastiese poging op die wêreldverhoog” beskryf.

Die president van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese en Paralimpiese Komitee, Barry Hendricks, het net na die afsluiting van die spele op Sondag 22 Februarie gesê hy is ongelooflik trots op die span.

“Vanjaar het Suid-Afrika geskiedenis gemaak met hul grootste Winter Olimpiese span nog – drie vroue en twee mans, almal met hul Olimpiese debuut,” het hy bygevoeg. Hy het ook sy dank uitgespreek teenoor Snow Sports South Africa vir hul harde werk en toewyding om dit moontlik te maak.

Maar vir Malica en haar familie is dit nie net oor waar sy geëindig het nie, dit is oor hoe ver sy gekom het.
Tans kuier sy in Oudtshoorn by haar ouma, Marida Strydom. Dis hier waar herinneringe lewendig word. Haar ouma wys trots ’n foto van Malica se heel eerste kompetisie as agtjarige. ’n Foto wat, volgens haar ouma, haar hart die meeste geraak het.

“Ek was altyd benoud om haar dop te hou met daai vrystyl-ski,” erken Marida. “Dit lyk vir my so gevaarlik.”
Malica se ma, dr. Carin Strydom, oorspronklik van Oudtshoorn en ’n oud-leerder van Hoërskool Oudtshoorn, onthou die jare van gebed en hoop dat haar dogter se droom sou realiseer. Haar pa, dr. Gerhard Malherbe (oorspronklik van George), was ook saam vir ondersteuning, die ouerpaar dikwels toegedraai in Suid-Afrikaanse mussies en serpe.

“Ons het mekaar as Suid-Afrikaners opgesoek,” vertel Carin. “Dit was ’n ongelooflike positiewe ervaring aangesien mense waai en opgewonde raak as hulle sien jy ondersteun Suid-Afrika.”

Malica se reis op die sneeu het al op vierjarige ouderdom begin toe sy by ’n ski-skool aangesluit het. Op aanbeveling van ’n vriendin se ma het sy begin met vrystyl-ski – ’n besluit wat haar uiteindelik tot op die wêreldverhoog sou neem. Teen agt het sy al begin kompeteer, en op 13 het sy Suid-Afrika verteenwoordig.

Sy het op 18 haar eerste Wêreldbeker in Ruka, Finland (2023) aangedurf en het reeds twee seisoene van die FIS Wêreldkampioenskappe voltooi, insluitend in Engadin, Switserland. Haar beste Wêreldbeker-plasing is 18de, terwyl sy 12de geëindig het by die Junior Wêreldkampioenskappe. Om in die Olimpiese dorp in te stap, was surrealisties, vertel Malica.

“As atleet voel dit amper soos ’n Wêreldbeker. Dit word uitstekend gereël. Maar as mens? Dit het onwerklik en soos ’n droom gevoel. Een dag kyk jy na al die atlete, en die volgende dag is die oë op jou.”

Een van haar mees onvergeetlike oomblikke was haar eerste lopie op haar eerste kompetisiedag. “Daai gevoel is onbeskryflik. Net pure opgewondenheid.” Kort daarna is sy na ’n skerm geneem waar familie en vriende haar met ’n verrassing ingewag het deur hulle boodskappe oor te dra en gesels het met Malica. “Ek het emosioneel geraak. Jy voel daai liefde en ondersteuning.”

Nog ’n oomblik wat haar diep geraak het, was na haar eerste lopie toe sy haar ouers in die skare gewaar. Hulle het mekaar omhels, duidelik oorweldig deur trots, en vir Malica was dit moeilik om nie self in trane uit te bars nie. “Dit het my onverwags gevang. Ek het nie verwag om so emosioneel te raak nie, maar om my ouers daar te sien, met soveel trots op hul gesigte, het my hart net geraak.”

Soos baie professionele atlete moes Malica groot opofferings maak. Omdat sneeu nagejaag moet word, reis sy voortdurend en kan sy nie lank op een plek bly nie – iets wat moeilik is vir iemand wat van roetine hou. Vlugvoosheid (jet lag) speel dus natuurlik ’n groot rol. As kind, ’n beperkte sosiale lewe en skoolwerk wat oral saamgeneem moes word, was ook deel van die prentjie.

“Daar was beslis tye wat ek wou ophou,” erken sy eerlik. “Dit was moeilik om aan te pas met die idee dat mens sneeu moet volg.”

Voor ’n oefensessie of kompetisie luister sy graag rock-musiek. “Snaaks genoeg maak dit my rustig.” Sy hou daarvan om bietjie tyd alleen deur te bring, net sy en haar musiek, omdat dit haar help om geanker en gefokus te voel.

Vir haar beteken dit baie om Suid-Afrika te verteenwoordig, al woon sy en haar ouers tans in Squamish, in die provinsie Brits-Kolumbië, Kanada.

“Ons bly in Kanada, maar dit is ’n Afrikaanse huis. Ek is die enigste kind en die res van my familie is in Suid-Afrika. Ek is trots om Afrikaans te wees.”

Selfs die Suid-Afrikaanse span was verbaas oor hoe vlot Afrikaans sy praat. “Min mense verwag dit van iemand wat in Kanada grootgeword het.”

Wanneer sy nie op ski’s is nie, hou sy daarvan om besig te bly – in die gimnasium, saam met vriende, of selfs in die kombuis. Haar ma skerts dat sy nou en dan graag kosmaak.

Aan jong meisies met groot drome sê sy eenvoudig: “Wees lief vir wat jy doen. Geniet dit so lank jy kan, en gee jou beste sonder om te stres.”

En as ’n mens haar ouma in Oudtshoorn hoor praat oor daardie foto van ’n klein dogtertjie op ski’s, besef jy: elke groot Olimpiese droom begin êrens klein – soms in ’n familie-album, lank voor die wêreld begin kyk. (MALISSA SPIES)