Vadersdag word soos vele ander spesiale dae afgemaak as ’n geldmaak-foefie, wanneer groot kettingwinkels aan mens allerhande items probeer verkoop vir die manne in ons lewens, maar eintlik word hierdie dag reeds vir 115 jaar gevier.
In 1909 het ’n Amerikaanse dogtertjie, Sonora Smart Dodd, die dag uitgedink nadat sy in die kerk na ’n Moedersdagdiens geluister het, om haar pa te vier wat haar en haar vyf sibbe alleen grootgemaak het, nadat hul ma tydens die laaste kind se geboorte oorlede is. Die dag is oorspronklik op 19 Junie 1910, haar pa se verjaarsdag gehou. Haar pa was ’n burgeroorlogveteraan, oftewel ’n “Civil War” veteraan.
Ongelukkig is sy naam nie bekend nie. Ander oorspronge beweer die dag het in 1908 ontstaan na ’n myn-tragedie waarin Grace Golden Clayton se pa oorlede is en sy gevra het vir ’n spesiale kerkdiens vir hom. Die dag is egter nie die volgende jaar weer gevier nie.
In baie lande word die dag op die 3de Sondag van Junie gevier. Katolieke vier dit op 19 Junie op die feesdag van St Josef, Jesus se aardse pa.
Elke dag behoort ’n dag te wees om jou pa of oupa te waardeer, of selfs ’n vaderfiguur in jou lewe, maar soms het mens ’n bietjie hulp nodig om dit op ’n spesifieke dag te doen.
Hier volg ’n paar wenke wat jou nie ’n fortuin sal kos nie:
- Ontbyt in die bed of maak sy gunsteling kos vir middag of aandete.
- Doen wat vir Pa lekker is. Kyk sy gunsteling- program of fliek, of werk saam met hom in die tuin.
- Maak vir hom ’n handgemaakte kaartjie uit jou hart.
- Maak ’n sertifikaat vir die beste pa in die wêreld. Sit dit in ’n mooi raam langs sy bed, of hang dit teen die muur op sodat almal kan sien jy spog met jou pa.
- Bederf hom met iets lekkers. Laat ’n “hamper” maak met ’n verskeidenheid lekker-nye soos biltong, droëwors, neute, gedroogde vrugte, ietsie soets en ’n drinkdingetjie.
- Sokkies, dasse en reukwater. As jou pa van dié soort ding hou, is dit altyd lekker om vir hom iets te gee wat hy kan gebruik. Hy sal ook elke keer as hy dit sien aan jou dink.
- Gee vir hom die dag af. Vadersdag is sy dag om te rus en dit te geniet. Bied aan om te braai, en laat hom lek-ker ontspan. (ANGELIQUE ERASMUS)
