Uitstaande program vir 10de Klassique!

13 vertonings • Spesiale pakket beskikbaar

Die eerste Klein Karoo Klassique is in 2009 op Oudtshoorn aangebied. Dié eerste fees, die
inisiatief van die plaaslike sakeman Nic Barrow, is saam met Barrow deur ’n geesdriftige groep inwoners van Oudtshoorn gereël.

DIE tiende Klein Karoo Klassique wat van 9 tot 12 Augustus op Oudtshoorn aangebied word, bied tien hoofuitvoerings aan in die NG Moederkerk, met drie laataandkonserte by Die Windpomp op dieselfde terrein.

’n Spesiale pakketaanbod vir al 10 hoofuitvoe­rings teen net R900 – ’n besparing van R400 (30%) – is nog by Computicket beskikbaar (Klassique Pakket). Volgens Hugo Theart, waarnemende uitvoe­rende hoof van Kunste Onbeperk, aanbieder van

Klein Karoo Klassique, is die aanvraag na dié pakkette groot en sal feesgangers wat daarin belang stel, moet gou speel.
Die tien hoofuitvoerings by die fees vanjaar is:

• MISA, ’n nuwe mis met ’n Suid-Afrikaanse invloed, met musiek gekomponeer deur Antoni Schonken. Antjie Krog skryf die teks en Marthinus Basson behartig die regie, met voorlesings deur Krog en soliste van die Kaapse Operakoor.

• The New Old – Die nuutheid van oudheid met twee nuwe Suid-Afrikaanse komposisies, onderskeidelik van Clare Loveday en Arthur Feder, spesiaal gekomponeer vir die trio-kombinasie van klavier (Mareli Stolp), viool (Waldo Alexander) en klarinet (Morné van Heerden).

• Tuur Florizoone, ’n Vlaamse trekklavierspeler, bekend vir die flair waarmee hy speel, in ’n program met werke wat oor verskeie genres strek.

• Soirée Musicale met André Schwartz (tenoor) en Lynelle Kenned (sopraan), begelei deur Melissa van der Spuy, met van die gewildste musiek uit musiekspele, operettes en operas.

• Night at the Opera met die Charl du Plessis Trio (Du Plessis op klavier, Werner Spies op kontrabas en Peter Auret op tromme) wat aan operamusiek ’n eiesoortige jazz-kinkel gee.

• Die ATKV-Afsluitingskonsert met Cecilia Rang­wanasha en Hlengiwe Mkhwanazi, ATKV Muziqanto-wenners, begelei deur Sulayman Human, in ’n program van bekende operaduette.

• Die befaamde Odeion-strykkwartet span kragte saam met die pianis Albie van Schalkwyk en gehore kan uitsien na musiek uit die laat Romantiese tydperk van onder andere Leoš Janáček en César Franck.

• Die Boulevard Harmoniste, ’n sesstem-a-capella-groep, het deur die jare bekendheid ver-werf vir hul uiteenlopende repertoire – van klas- siek tot ligter en volksmusiek asook Amerikaanse spirituele werke.

• Sulayman Human, ’n boorling van Oudtshoorn en nou ’n bekroonde pianis, en die jong fluitspeler Myles Roberts vertel hul eie stories terwyl hulle gehoorlede op ’n musikale wêreldreis neem.

• Janelle Visagie (sopraan) en José Dias (pianis), wenners van 2018 se kykNET Fiësta vir die beste prestasie in klassieke musiek, bring ’n Franse geur na Oudtshoorn met La Bonne Chanson: Die Franse kunsliederskat.

Kaartjies vir die 10 vertonings is te koop by Computicket of Shoprite/Checkers.

Die Windpomp
Ná die sukses van die eerste restaurant-teaterervaring by Die Windpomp by verlede jaar se Klassique, word die volgende laataandkonserte (om 21:00) daar aangebied:.

• Die viool-duo van Ellani de Jager en Donné de Kock, oftewel The Grey, op Donderdag 9 Augustus. Dié viool-duo het al wêreldwyd opgetree. Hulle musiek word gekenmerk deur ’n vermenging van oud en nuut, met klassieke musiek uit ’n wye reeks genres, waaronder pop, rock en ballades.

• Brathew van Schalkwyk (klavier), Jesse Julies (saxofoon en sang) en Naledi Masilo (sang) op Vrydag 10 Augustus met Another Evening of Jazz.

• José Dias (klavier) op Saterdag, 11 Augustus met een van die belangrikste klavier-meesterstukke, 24 Preludes Op.28 by Frédéric Chopin.

Kaartjies vir die drie konserte by Die Windpomp kos R90 en is slegs by Kunste Onbeperk se kantoor in Die Neelsie (Jan van Riebeeckweg 217, Oudtshoorn) of by 044 203 8600 beskikbaar. Kaartjies na die vertonings, sluit nie aandete in nie.

Eet- en drinkgoed sal elke dag tussen 11:00 en 19:00 by Die Windpomp te koop wees terwyl aand­etes vanaf 19:00 bedien word.

• Meer by www.klassique.co.za