Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen twee mans van Oudtshoorn wat teregstaan op klagtes van roof met verswarende omstandighede is in die streekhof na die slotbetoë van die staat en die verdediging tot Juliemaand uitgestel.
Mervin Baartman en Sabilo Madikane het na bewering die aand van 15 September 2017 die 18-jarige Shavros Prins op die hoek van Sesdelaan, Bongolethu aangerand en van sy selfoon ter waarde van R600 beroof.
Volgens Prins was hy en sy tante, Chivonne Prins, van ’n kitsbank by die Thusong Sentrum onderweg na ’n kafee toe hulle deur die twee beskuldigdes voorgekeer is. Hulle het die mans glo vroeër die aand daar sien staan. Albei verdagtes is aan hulle bekend.
Die ondersoekbeamptes, ao Wessels Bouwer en ao Piet Hendricks, is op versoek van die verdediging teruggeroep om te getuig oor die afneem van waarskuwingsverklarings. Albei het getuig dat die verklarings volgens die wet afgeneem en deur die beskuldigdes as korrek onderteken is.
Oor ’n derde verdagte met ’n arm wat geamputeer is, en volgens Chivonne Prins ook by die rooftog betrokke was, het Hendricks getuig dat hy nie so ’n persoon kon opspoor nie.
Bouwer het ’n bewering van Prins dat hy nie alles neergeskryf het wat sy hom meegedeel het nie, ontken.
Die staatsaanklaer. Hyron Goulding, het die hof versoek om die twee skuldig te bevind omdat beide die klaer en sy tante hulle ken en kon identifiseer. Die twee beskuldigdes het besluit om nie te getuig nie.
Daarby het albei aangedui dat hulle getuies sou bring om te getuig waar hulle die betrokke aand was, maar het dit nooit gedoen nie.
“Dit is dus duidelik dat hulle wel op die toneel was en die misdaad gepleeg het,” het Goulding gesê.
Hy het toegegee dat daar twyfel bestaan oor ’n mes wat ook in die aanval gebruik is.
Die beskuldigdes se regshulpprokureur, Eugene Roos, het vir hul ontslag gevra vanweë weersprekings en die feit dat ’n derde verdagte nooit voor die hof gebring is nie.
Volgens hom het Shevonne Prins haar getuienis aangepas en is daar twyfel of ’n mes gebruik is om die klaer te dreig of leed aan te doen.
Volgens hom maak die feit dat die twee beskuldigdes nie getuig het nie, nie die staat se saak sterker nie.
Hy het gesê Chivonne Prins ontken sekere dinge in haar verklaring en dit strook nie met haar getuienis in die hof nie.
Volgens Roos kan die hof nie pyltrek op haar getuienis nie.
“Die hof sal moet beslis watter getuienis om te aanvaar. Die staat se saak is so swak dat dit nie eers vir die beskuligdes nodig is om daarop te antwoord nie,” het Roos gesê.
“Die staat het nie ’n prima facie-saak nie en daarom behoort die beskuldigdes vrygespreek te word.”
Streeklanddros Retha Pretorius het vroeër ’n ontslagaansoek van die twee mans van die hand gewys omdat sy bevind het dat die staat wel ’n prima facie-saak teen hulle het.
Uitspraak word op 4 Julie 2019 gelewer.