Uitspraak in ontslagaansoek in Augustus

Deur Garnett Wicomb
UITSPRAAK in die ontslagaansoek van ’n egpaar van Oudtshoorn wat hulle na bewering met onwettige staatstenders verryk en begunstigdes benadeel het is Dinsdag in die Oudtshoorn Streekhof uitgestel vir die landdros om die betoogshoofde van die staat en die verdediging te bestudeer.

Die regsverteenwoordiger van Marthinus en Johanna Rabie, Gideon Badenhorst, het ’n ontslagaansoek ingedien omdat hy van mening is dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel kon bewys nie en daar te veel weersprekings van getuies is.

Die staat beweer dat Marthinus Rabie, ’n voormalige tegnikus in diens van die Wes-Kaapse Departement van Landbou by die Oudtshoorn Proefplaas, en sy vrou, Johanna, se twee beslote korporasies, Attaqua en Gwaiing Ontwikkelings, tussen 2006 en 2008 bevoordeel is met die toekenning van tenders.
Miljoene rande is by die saak betrokke.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, opponeer die aansoek omdat hy van mening is daar genoeg getuienis voor die hof is wat tot die egpaar se skuldigbevinding kan lei.

Streeklanddros Daniel Boks het gesê dat hy die lywige stelle dokumente ontvang het en die saak vir uitspraak tot 26 Augustus 2019 uitgestel.

Die beskuldigdes is uit op waar­skuwing.