Lasbrief vir vrou wat wegbly van hof

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n egpaar van Oudtshoorn wat van bedrog en geldwassery aangekla word, is Maandag in die Oudtshoorn Streekhof tot volgende maand uitgestel vir die inhegtenisneming van die vrou wat weer nie by die hof was nie.

Ricardo Bowkers (43), wat reeds 12 jaar tronkstraf opgelê is nadat hy op vyf aanklagte van bedrog en een van geldwassery skuldig bevind is, staan saam met sy vrou, Desiree, tereg op nog soortgelyke klagtes.

Hulle het na bewering vals eise by twee versekeringsmaatskappye ingedien.

Van die oortredings is glo gepleeg terwyl Ricardo Bowkers in aanhouding was.

Streeklanddros Daniel Boks het op versoek van die staatsaanklaer, Hyron Goul­ding, ’n lasbrief gemagtig vir die inheg­tenisneming van Desiree Bowkers en die saak tot 20 Augustus 2019 uitgestel.

’n Verduideliking van Bowkers dat sy vrou se werkgewer haar nie wil afgee om hof toe te kom nie is deur die hof verwerp omdat sy ’n beskuldigde en nie ’n getuie is nie.