Die storie van twee Lotus XI

Dennis Carlisle en Ray Moody by hul twee Lotus XI motors. Hierdie foto het in die CAR tydskrif in 1983 verskyn.
Foto: CAR Magazine

Dennis Carlisle (links) en Ray Moody in een van die Lotus XI motors tydens die bouproses. (Foto verskaf.)

Deur Angelique Erasmus
IN 1981 het twee Oudtshoorniete, Ray Moody (toe 41 en nou 80) en wyle Dennis Carlisle (toe 39), besluit om twee replikas van die Lotus XI te bou.

“Die rede hoekom ons die Lotus XI gebou het, en nie die Lotus VII nie, was omdat dit ’n baie mooier sportmotor was,” vertel Moody.

Om een te bou is ’n groot uitdaging op sigself, maar om twee replika-motors ge-lyktydig aan te pak, is uiters ongewoon.

Sowat 18 maande nadat hulle die sportmotortjies begin bou het, het hulle daar-mee in Oudtshoorn se strate op en af gery.

Hierdie twee donkergroen sportmotors het nie net geblink nie, maar was tot in die fynste besonderhede ’n replika van die oorspronklike Lotus XI.

Die enigste leiding wat die twee manne gehad het, was ’n foto van die kant en ’n plan met volledige spesifikasies in Sports Car Chassis Design wat Moody in sy besit gehad het.

Die motor se dop het vorm gekry in Carslilse se motorhuis. Hulle het die motor se bakwerkvorm gemaak met groot stukke polistireen wat hulle uitgesny het, en dit daarna met veselglas uitgevoer.

Die onderstel en alle meganiese onderdele is in Moody se motorhuis gebou.

Moody en Carlisle het tot die sitplekke self gemaak. In 1982 kon hulle die sitplekke teen R90 per sitplek koop, maar dit was te duur vir hulle. Hulle het hul vroue ingespan om die sitplekke te stik.

Op 9 Maart 1983 is hulle met die motors na die koöperasie om dit te weeg. Hulle het 615kg elk geweeg en hul petroltenks kon 15 liter vat.

Nadat albei motors by die toetsterrein padwaardig verklaar is, is hulle na die landdroskantoor vir die registrasie.

Die twee sportmotors het nie net identies gelyk nie, maar hul registrasienommers was ook feitlik dieselfde, naamlik CG 21196 en CG 21169.

Moody en Carlisle het met hul vinding-rykheid gewys waar ’n wil is, is ’n weg.

Moody se Lotus is steeds op Oudts­hoorn, maar behoort nou aan sy seun Brendan Lennox.

Carlisle het sy Lotus destyds verkoop aan ’n inwoner van George vanwaar dit later na Port Elizabeth is.

Carlisle, wat daarna vir homself ’n Cobra gebou het, is sowat twee jaar gelede oorlede, vertel Moody.

• In 1983 se September-uitgawe van CAR was daar ’n volledige artikel oor die twee renmotors en hul eienaars.

• Moody, wat ’n passie vir renmotors gehad het, het ook aan stockcar-wedrenne deelgeneem. Hy het in die 1960’s met ’n gemodifiseerde Ford Prefect aan verskeie motorwedrenne deelgeneem.