Uitsoek-volstruise onder veilingshamer

Van links: Schoeman Laubscher, Pieter Terblanche, PA Geldenhuys, Kobus Terblanche, Cornel Landman, Anel Engelbrecht en Gert Laubscher. Foto verskaf

Met die volstruis-produksieveiling wat op 8 April by die Oudtshoorn Navorsingsplaas aangebied is, het 130 broeivolstruise onder die hamer gekom. Die veiling is deur die Wes-Kaap departement van landbou en die SA Volstruisbesigheidskamer in samewerking met Klein Karoo Agri aangebied.
Die hoogste prys was R 25 000 vir ʼn wyfie met uitstaande vere van PJ Terblanche & seuns. Die koper was Izazi Retailers 29 CC van Oudtshoorn.

ʼn Mannetjie-volstruis van Ryan Lipschitz is vir R22 000 deur Avondrust boerdery CC in Klaarstroom gekoop. Van die aanbod van volstrui-se was 68 vanaf die navorsingsplaas en onder hulle is ʼn wyfie met goeie teelwaardes vir R21 000 verkoop.

Die afslaer was PA Geldenhuys van Klein Karoo Veilings wat die voëls per katalogus opgeveil het. Die katalogus het die inligting vir elke volstruis bevat (geslagte, ouderdomme, gewigte, punte vir vere en hare en teelwaardes) en volstruise is individueel opgeveil.

Volstruise vir die veiling is vooraf by spesifieke produsente (gasver-kopers) uitgesoek wat bekend is vir hulle volstruise se verekwaliteit. Piet Kleyn van die SAVBK het hierdie proses bestuur. Die beoordelaars was Arthur Muller (CKI), Hannes van der Westhuizen (afgetrede volstruisboer en kenner) en Dr Anel Engelbrecht van die Oudtshoorn Navorsingsplaas.

Hierdie was die derde gesamentlike veiling van die Navorsings- plaas in samewerking met gas-verkopers. (HANNES VISSER)