Die saak teen ’n 47-jarige man van Oudtshoorn, wat aangekla was van die verkragting van ’n 23-jarige vrou in November 2024, is in die Oudtshoorn Streekhof van die hofrol verwyder omdat die klaagster weer nie by die hof opgedaag het nie.
Die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, het die hof in Oktober verlede jaar meegedeel dat die klaagster na Kaapstad verhuis het en van adres ver-ander het.
Die ondersoekbeampte is egter bewus van haar nuwe adres en sal sorg dat sy vir die verhoor na Oudtshoorn kom. Streeklanddros Daniel Boks het die versoek toegestaan en bygevoeg dat die beskuldigde geregtig is op ’n spoedige verhoor sodat die saak afgehandel kan word.
Die beskuldigde is in aanhouding nadat borgtog aan hom geweier is.
Sy regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, het die hof versoek om dit ’n voorkeursaak te maak en nie weer uit te stel nie.
Landdros Boks het dit aan Malgas gestel dat die verwydering van die saak van die hofrol slegs tydelik is en dat dit enige tyd weer op die hofrol geplaas kan word. (GARNETT WICOMB)
Uit die hof: Saak van hofrol verwyder
