Uit die hof: Saak teen skoolouers uitgestel hangende uitslag van vertoë

Die saak teen ’n groep ouers van die Grootkraal (UCC) Primêre Skool in die Oudtshoorn-distrik, wat teregstaan op klagtes van menseroof, opsetlike saakbeskadiging, aanranding, intimidasie en openbare geweld, wat verlede week in die Oudtshoorn Streekhof sou begin, is weer uitgestel nadat hul regsverteenwoordiger meegedeel het dat hulle verdere vertoë tot die senior staatsaanklaer wil rig vir die verwydering van die saak van die hofrol.

Die saak teen Johannes Lottering, Randall May, Blaudwine Fortuin, Marion Witbooi, Michelle May, Johnny van Niekerk, Lena May, Alicia Bruintjies, Cathleen Gelant en Brian Stal spruit uit ’n voorval op 7 April 2021 toe hulle onder andere buitebande op die pad na die Kango Grotte aan die brand gesteek, ’n onderwyser, Glen Snyman, en die plaaseienaar, Jean Botha, aangerand en hulle verhoed het om die skoolperseël te verlaat. Botha se voertuig is na bewering ook met klippe bestook.

Die staat voer aan dat die beskuldigdes met ’n gemeenskaplike doel opgetree het en dat daar ’n sterk saak teen hulle is.

’n Vorige aansoek deur die beskuldigdes dat die saak van die hofrol verwyder moet word, is deur die staat geweier, maar volgens hul nuwe regsverteenwoordiger, Eugene Roos, is nuwe inligting nou voorgelê.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks, en die beskuldigdes, wat almal deur Eugene Roos van Regshulp Suid-Afrika verteenwoordig word, is op waarskuwing. (GARNETT WICOMB)