Uit die hof: Man wat 10-jarige met klip gooi tronk toe

’n Man van Oudtshoorn wat ’n 10-jarige seun met ’n klip in die gesig gegooi het, omdat hy geweier het om vir hom sigarette te gaan koop, is Dinsdag in die Oudtshoorn streekhof aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind, en vir tien maande tronk toe gestuur.

Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging van Sebastiaan Van Hansen gesê dit is skokwekkend dat ’n volwasse man doen wat hy gedoen het.

Die hof het egter vir vonnis in ag geneem dat hy skuldig gepleit en oop kaarte met die hof gespeel het.
Die hof het egter ’n plig teenoor die gemeenskap en kan hom nie net ’n klop op die skouer gee nie.
Hy is nie ’n eerste oortreder nie en die voorgeskrewe vonnis is tien jaar gevangenisstraf.

Omdat wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan, is Van Hansen gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf waarvan hy volgens Art 276 (1) (i) van die Strafproseswet ’n sesde moet uitdien voordat hy vir parool in aanmerking kom.

Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (GARNETT WICOMB.)