Tweede registrasienaweek bied nog kans aan kiesers

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), ook bekend as die IEC, sê Suid-Afrikaners het positief gereageer om te registreer of hul kiesersbesonderhede op datum te bring voor die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November.

Die OVK het op 20 en 21 Junie ’n landswye registrasienaweek gehou ter voorbereiding van die plaaslike rege-ringsverkiesing. Volgens die OVK is sowat 2,9 miljoen registrasie- en opdateringstransaksies gedurende die nasionale registrasienaweek verwerk, wat die kiesersrol tot ongeveer 28,5 miljoen geregistreerde kiesers laat groei het.

Vroeë aanduidings toon dat jongmense ’n groot deel van die nuwe registrasies uitgemaak het. KwaZulu-Natal, Gauteng en die Oos-Kaap het van die hoogste registrasiegetalle aangeteken.

OVK-hoof uitvoerende beampte Sy Mamabolo het gesê die registrasienaweek het twee belangrike doelwitte bereik: die verdere groei van die kiesersrol en verbeterde deelname deur jongmense.

Die registrasieveldtog het die totale aantal geregistreerde kiesers tot 28,5 miljoen laat groei. Ter vergelyking het die kiesersrol wat tydens die 2024 nasionale en provinsiale verkiesing gebruik is, 27,7 miljoen kiesers bevat.

Van die 2,9 miljoen transaksies was 477 174 nuwe registrasies, terwyl ongeveer 2,4 miljoen kiesers hul besonderhede nagegaan of op datum gebring het. Volgens die OVK se jongste statistieke is daar tans 55 111 geregistreerde kiesers in die Oudtshoorn-munisipale gebied. Vroue verteenwoordig 55,37% van die kiesersrol, terwyl mans 44,63% uitmaak.

Die grootste groep geregistreerde kiesers is tussen 50 en 59 jaar oud.

Die OVK herinner inwoners wat nog nie geregistreer het nie dat die aanlyn registrasieportaal oop sal bly totdat die verkiesing amptelik afgekondig word.

Kiesers kan registreer, hul besonderhede opdateer of hul registrasiestatus nagaan by registertovote.elections.org.za.
’n Verdere registrasienaweek word ook vir 1 en 2 Augustus beplan.

Met die plaaslike regeringsverkiesing wat later vanjaar plaasvind, word inwoners aangemoedig om hul regi-strasiebesonderhede na te gaan. Kiesers sal slegs kan stem in die wyk waar hulle geregistreer is.