Twee vroue sterf ná weerlig hul tref

Blomkranse is tydens ’n kranslegging vir Mei en Isaacs teen ’n heining gesit, nadat hul deur weerlig doodgeslaan is. Foto: Leon Campher

Die gemeenskap is in rou gedompel ná twee vroue op Sondag 29 Maart 2026, tydens ’n donderstorm by Kombuysplaas, naby Oudtshoorn deur weerlig doodgeslaan is.

Lena Mei (45) en Sharonice Isaacs (32) was tydens die voorval besig om te werk in tabaklanderye toe die storm oor die area plaasgevind het. Nooddienste is ontbied, maar die twee is op die toneel dood verklaar. ’n Derde persoon is ook deur weerlig getref, maar het die voorval oorleef.

Die voorval het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur en weer die gevare van weerlig tydens storms onder die vergrootglas geplaas.

Hoewel sulke insidente skaars is, is weerlig steeds een van die gevaarlikste weerverwante verskynsels in Suid-Afrika. Volgens navorsing sterf ongeveer 100 mense jaarliks in die land weens weerlig, terwyl duisende ander beseer word.

In sommige studies en historiese data word selfs hoër syfers van tot meer as 200 sterftes per jaar genoem, afhangend van die periode en verslagdoening.

Kenners wys daarop dat die meeste slagoffers wat hulself buite bevind – dikwels in oop gebiede of naby bome staan – en dat dit die risiko verhoog tydens donderstorms, selfs al reën dit nie.

Alhoewel presiese statistieke vir Oudtshoorn beperk is, is daar oor die jare sporadiese gevalle aangemeld waar inwoners in die groter Klein Karoo-gebied deur weerlig getref en dood is. Hierdie voorvalle kom egter nie gereeld voor nie, wat die onlangse tragedie net meer skokkend maak.

Kenners beklemtoon dat selfs ’n indirekte trefslag (via grondstrome) dodelik kan wees en dat die meeste sterftes in landelike en oop gebiede voorkom.

’n Kranslegging is Donderdag 2 April vir die oorledenes gehou deur die organisasie, Oudtshoorn Community Against Crime. (ANGELIQUE ERASMUS)