Twee veghonde verskeur inwoner

Bo: Die twee Amerikaanse veghonde het uit dié erf met sy toe hek en hoë heining ontsnap.                             Foto: Angelique Erasmus Regs: ’n Onlangse foto van die slagoffer, Phillipus Draai (63), en een van sy susters, Salome Plaatjies.  (Foto verskaf.)

Bo: Die twee Amerikaanse veghonde het uit dié erf met sy toe hek en hoë heining ontsnap.  Foto: Angelique Erasmus
Onder: ’n Onlangse foto van die slagoffer, Phillipus Draai (63), en een van sy susters, Salome Plaatjies.
(Foto verskaf.)

1 Man3

Deur Liesel le Roux en Angelique Erasmus
’N 63-JARIGE inwoner van Oudts­hoorn het verlede Donderdagmiddag kort voor 16:00 in die erf van sy suster gesterf nadat hy daar deur twee Amerikaanse veghonde aangeval is.

Phillipus Draai was besig om agter in sy suster, Cathleen Dido, se erf in Floridalaan in die weermagkamp op die dorp te hark werk toe die veghonde na bewering uit ’n buurman se toegemaakte erf losgebreek en hom ten aanskoue van Dido en ander aan die nek beetgekry en verskeur het.

Na verneem word, het een van die honde vroeër vanjaar ’n ander hond doodgebyt en moes inwoners al by ver­skeie geleenthede vir hulle vlug.

Volgens Raymond Solomons wat in Dido se huis woon, het een van die veghonde hom Donderdagmiddag be­gin jaag toe hy tuis gekom het.

Hy het egter daarin geslaag om betyds die huis haal. Hy het gehardloop om Draai te gaan waarsku, maar die an­der veghond het volgens Solomons oor die heining gespring waarna die twee honde Draai se voete onder hom uitgehardloop het voordat hy kon vlug. Die honde het Draai toe ten aanskoue van Solomons, Dido en haar seun verskeur.

Draai is op die toneel dood.

Die honde is deur hul eienaar na ’n veearts geneem waar hulle uitgesit is.

Draai se ander suster op Oudts­hoorn, Salome Plaatjies, sê die familie is stukkend oor Draai se dood.

Die eienaar van die veghonde, David Malotana, het aan Die Hoorn gesê hy is deur sy regshulpdiens aan­geraai om nie die voorval met iemand te bespreek nie. Motlana se erf waaruit die honde ontsnap het, is omring met hoë heinings, lem­me­tjies­draad en ander versperrings om die honde binne te probeer inhou.

George van Huysteen, ’n dieregedragskundige van George, sê die ge­heim met Amerikaanse veghonde is om seker te maak jy koop ’n hond wat ’n baie hoë verdraagsaamheid teenoor mense het, en om hulle vir opleiding na ’n kenner te neem. Hy sê veghonde word geteel om verdraagsaam teen­oor mense te wees, maar nie teenoor diere nie. Sodra ’n veghond egter ’n mens gebyt het, kan hulle dit moontlik weer doen omdat hulle hou van die opwelling van adrenalien wat die aanval meebring.

“Opregte veghonde is wonderlike honde, maar nie goeie waghonde nie. Om een te besit, behoort ’n leefstyl te wees,” het hy gesê
Volgens kapt Louis Visser doen die Oudtshoorn Polisie tans ’n geregtelike nadoodse ondersoek.

Die SANW het nie op navrae van Die Hoorn gereageer nie.

• Draai word Saterdag om 11:00 ter ruste gelê vanuit die Docks Mision Kerk, met ’n bymekaarkoms  om 10:00 in Du Plessisstraat by die huis van sy broer Buks.