AfriForum se Oudtshoorn-takbestuur is van links Heinrich Bosman (tesourier en omgewingsake), André Barnard (plaaslike regeringsake), Pieter Westraad (gemeenskapsveiligheid) en Arno Greyling (ondervoorsitter en jeug asook waarnemende voorsitter). Afwesig: Magda Marais (sekretaris).
DAAR is deesdae soveel uitdagings wanneer dit kom by kwessies wat almal van ons raak. Het jy al gewonder hoe jy ’n verskil kan maak, maar weet nie waar om te begin nie? Dan wil ons jou uitnooi om by AfriForum aan te sluit.
Waarom AfriForum? AfriForum is ’n nie-regeringsorganisasie, geregistreer as ’n maatskappy sonder winsoogmerk, met die doel om as burgerregtewaghond Afrikaners as ’n minderheid se regte te beskerm en hulle te mobiliseer om self ’n verskil in hul gemeenskappe te maak. Hoewel die organisasie op die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, het AfriForum ’n spesifieke fokus op die regte van Afrikaners as ’n gemeenskap aan die suidpunt van Afrika.
Lidmaatskap is egter nie eksklusief nie en enige persoon wat hom met die inhoud van AfriForum se burgerregtemanifes assosieer, kan aansluit.
AfriForum se visie is dat Afrikaners sinvol in hul eie reg en in vreedsame naasbestaan met ander gemeenskappe volhoubaar in Suid-Afrika kan voortbestaan. Dit is die missie van AfriForum om as deel van die Solidariteit Beweging te verseker dat daar aan die basiese voorwaardes vir die voortbestaan van Afrikaners voldoen word. As ’n geloofwaardige Afrikanerbelange-organisasie werk AfriForum daarvoor om buite die werkplek op nasionale én plaaslike vlak die impak wat die huidige politieke werklikhede op Afrikaners het te hanteer en te probeer beïnvloed, terwyl daar ook gewerk word om volhoubare strukture te vestig waardeur Afrikaners selfstandig hul eie voortbestaan kan verseker.
Gemeenskappe is tans toenemend onder druk omdat die staat nie sy verpligtinge nakom nie. Van die gevolge is swak dienslewering en toenemend onveilige woonbuurte en landelike omgewings. Op takvlak wil AfriForum ons plaaslike gemeenskappe in staat stel om self die behoeftes aan te pak wat deur oneffektiewe munisipale bestuur veroorsaak word.
AfriForum se Oudtshoorn-tak het daarom besluit om die plaaslike stadsraad vir wanprestasie verantwoordelik te hou deur op plaaslike regeringsake te fokus as deel van AfriForum se Ons Dorp-veldtog vir 2018. Die Oudtshoorn Plaaslike Munisipaliteit is een van vier Wes-Kaapse munisipaliteite wat deur die Valke ondersoek word en juis dáárom wil AfriForum hierdie druk toepas.
AfriForum se Oudtshoorn-takbestuur bestaan uit Arno Greyling (ondervoorsitter en jeug), Heinrich Bosman (tesourier en omgewingsake), Magda Marais (sekretaris), Pieter Westraad (gemeenskapsveiligheid) en André Barnard (plaaslike regeringsake).
As ’n nie-regeringsorganisasie plaas AfriForum pertinente klem op sy selfstandigheid en ontvang die organisasie geen finansiering vanaf die Suid-Afrikaanse regering nie. Lede word gevolglik gevra om ’n maandelikse lidmaatskapfooi van ’n bedrag van hul eie keuse te betaal.
Lidmaatskapvorms is by enige van die bestuurslede beskikbaar.
AfriForum kan net so sterk wees soos wat sy lede hom maak. Sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing!
Geplaas deur AfriForum Oudtshoorn.