Twee sterf in laatnag-tragedie

Die botsingstoneel waar die Volkswagen Golf die betonversperring op die treinbrug getref het. Foto’s verskaf

Bertrum Michaels (22).

Jacques (Jacklin) Prinsloo (26).

Deur Liesel le Roux en Angelique Erasmus
TWEE jong inwoners van Bridgton, Oudtshoorn het Saterdagoggend net na middernag gesterf toe die Volks­wagen Golf waarmee hulle en nog drie vriende gery het, die betonver­sperring op die De Rust-pad sowat 5 km buite Oudts­hoorn getref het.

Hulle is Bertrum Michaels (22), ’n student aan die Suid-Kaap Kollege, en Jacques (Jacklin) Prinsloo (26), wat vir die padkontrakteursfirma Roadmac gewerk het.

Chandre Nortje (18), Xavier Arends en Casius Ewerts, die drie ander insittendes, is al drie ernstig beseer en word in die George Hospitaal behandel.

Volgens Nadia Ferreira, woord­voer­der van die Wes-Kaapse Depar­tement Gesondheid, is hulle aan­- vanklik per ambulans na die Oudts­hoorn Hospitaal geneem en behandel, maar dieselfde dag nog na George oorgeplaas.

Daar was die afgelope week veral kommer oor die toestand van Chandre, ’n leerder van die Oudtshoorn Vaardigheidskool, wat in die hoësorgeenheid behandel word.

Sy tannie, Valencia Meyer, het gistermiddag laat aan Die Hoorn gesê dat dit nie goed met Chandré gaan nie. Sy toestand is na verneem word baie ernstig, maar stabiel.

Die vyf jongmense was op pad terug na Oudtshoorn vanaf Dysselsdorp waar hulle die aand saam­ge­kuier het toe die botsing plaas­ge­- vind het.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die botsing Saterdagoggend omstreeks 00:16 plaasgevind.

• “Hy was ’n goeie kind en ’n mense-mens. Ek en hy was baie naby aan mekaar,” het Bertrum se bewoë ma, Sarahline Michaels, Maandag aan Die Hoorn gesê.

Sy en sy pa, Glanwille Rossouw, het Saterdagoggend net na 07:00 van die ongeluk verneem en na Bertrum begin soek. ’n Vriend het hulle na die Oudtshoorn Hospitaal geneem en daarna bygestaan om met die polisie kontak te maak, waarna sy pa hom in die lykshuis kon gaan uitken het.

Bertrum word Saterdag om 10:00 vanuit die St Simons Anglikaanse Kerk in Bridgton begrawe. Die diens vooraf is om 09:00 by Disahof 461.

• Sy blameer niemand nie en het geen kwade gevoelens nie, sê Soes Moos, die ma van Jacklin, wat ook bekend gestaan het as Boytjie.

Volgens Charlene Brits, ’n vriendin van die familie by wie Jacklin die laaste aantal maande gewoon het, het sy, sy ma en ’n tannie, Regien Moos, ook Saterdag­oggend nadat hulle van die botsing gehoor het, begin soek om uit te vind of Jacklin nie daarin betrokke was nie. Hulle kon later die oggend bevestiging daarvan by die Polisie kry.

Sy vertel hy en een van die beseerdes, Xavier, het saam gewerk.

Jacklin word Saterdag om 12:00 vanuit die Pinkster Protestantse Kerk in Rosevalley begrawe. Daar is nie vooraf ’n diens by die huis nie.

Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.