TWEE jong mans van Stolsvlakte wat daarvan aangekla is dat hulle ’n groente-en-kruidenierswaresmous van Dysselsdorp met ’n piksteel geslaan en beroof het, is in die Oudtshoorn Streekhof aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind. Die saak is vir proefbeampteverslae en vonnisoplegging tot 4 Maart 2020 uitgestel.
Gregory Koopman (22) en Darren Lombaard (19) het op 30 Junie 2017 vir Andrew Andries, wat hulle goed ken, aangerand en beroof.
Hulle het skuld ontken.
Die mans se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het vir hul vryspraak gevra omdat daar volgens hom geen getuienis voor die hof is wat tot hul skuldigbevinding kan lei nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het in haar uitspraak gesê getuies wat die beskuldigdes geroep het, het mekaar weerspreek. (Deur Garnett Wicomb)