Bosman-Robson-hofsaak skop af

DIE saak teen ’n egpaar van De Rust wat van aanranding met die opset om ernstig te beseer op ’n bekende sakeman van Oudtshoorn aangekla word, het Maandag in die landdroshof op Oudtshoorn begin met die klaer wat eerste getuig het.

Stephen (45) en Minnie (55) Robson word daarvan aangekla dat hulle op 17 Januarie 2018 die eienaar van Super Car Wash, Deon Bosman, in sy kantoor aangerand het deur hom met ’n knuppel oor sy kop te slaan, te skop en te trap.

Hulle ontken skuld.

Die aanranding gaan glo oor plasings op Facebook. Bosman het Maandag getuig dat die Robsons die betrokke dag by sy kantoor ingestorm en Stephen hom agter sy lessenaar geklap en daarna, terwyl hy op die vloer gelê het, geskop en getrap het. Hy het later daarin geslaag om ’n knuppel uit ’n laai te haal om homself teen Stephen te verdedig.

Bosman het Stephen na bewering teen die arm geslaan, maar het gesê hy kan nie onthou of hy ooit geslaan het nie. Volgen Bosman het Minnie die knuppel by hom afgeneem en hom daarmee oor sy kop geslaan waarvoor hy later ses hegsteke moes kry. Hy het ’n blikkie pepersproei uit ’n laai gehaal waarmee hy die egpaar in hul gesigte gespuit het.

Volgens hom het alles baie vinnig gebeur en het hy die blikkie leeg gespuit en later weggegooi.

Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Johan Wagener, het dit aan Bosman gestel dat hy leuens vertel waarop Bosman geantwoord het “die waarheid bly die waarheid”.

’n Destydse werknemer van Bosman, Ruan Nel, het getuig dat hy Stephen van die klaer af getrek het en ook ’n vuishou of twee teen die bors gekry het voordat hy die polisie kon bel.

Wagener het dit aan hom gestel dat hy en Bosman se weergawes hemelsbreed verskil. Volgens hom het Bosman getuig dat die vrou hom twee keer oor sy kop geslaan het terwyl Nel getuig dat dit slegs ’n enkele hou was.

Wagener het dit verder aan Nel gestel dat hy nie in die kantoor was toe Bosman die egpaar met pepersproei gespuit het nie.

Wagener is ’n paar keer deur landdros Marius Nel in die rede geval tydens sy kruisondervraging van Bosman en Nel.

Hy het Wagener versoek om sy vrae meer duidelik te stel en nie in die lug te laat hang nie. Hy het hom ook versoek om nie die getuies se karakters aan te val nie.

Die saak is voorlopig tot 9 Maart uitgestel wanneer ’n datum vir die voortsetting bepaal sal word. (Deur Garnett Wicomb)