Tussenverkiesings dalk al op 9 Desember

TUSSENVERKIESINGS in drie wy­ke in die Groter Oudtshoorn kan reeds moontlik op 9 Desember plaasvind, met kandidate vir die verkiesings wat tussen 6 en 16 November genomineer kan word.

Drie wyke in die dorp is tans vakant nadat drie DA-raadslede, Ewa Fortuin (Wyk 4 in Bridgton), Hendrik Ruiters (Wyk 5 in Bridgton) en Nellie Soman (Wyk 10 in Dysselsdorp), uit die raad en so ook uit die DA bedank het.

Behalwe van gevestigde partye soos die DA en ANC wat na verwag­ting aan dié drie tussenverkiesings sal deelneem, is daar ook spekulasie op die dorp dat kandidate van die Good-party asook kandidate wat groepe inwoners verteenwoordig, aan van die tussenverkiesings sal deelneem.

• Munisipale tussenverkiesings is in Maart vanjaar tydelik gestaak as gevolg van die inperkings van die Covid-19-pandemie, en weer hervat na die instelling van Vlak 1 wat politieke aktiwiteite toelaat. Die eerste groep tussenverkiesings vind op 11 November plaas.

Volgens die waarnemende munisipale bestuurder, Gerald de Jager, het die Onafhanklike Verkiesingskommissie nog nie ’n amptelike datum vir ’n volgende tussenverkiesing in Desember bekend gemaak nie. “Die OVK het wel aangedui dat 9 Desember 2020 die moontlike datum is wat hulle dink die tussenverkiesing sal wees.” (Deur Liesel le Roux)