Oud-werknemer van gastehuis kry opgeskorte vonnis

’N VOORMALIGE werknemer van ’n gastehuis in Schoemanshoek, Emmerentia Weyngaardt (34), is aan twee van drie bedrogklagtes skuldig bevind en verlede week in die Oudts­hoorn Streekhof ’n opgeskorte vonnis en drie jaar huisarres opgelê.

Weyngaardt is daarvan aangekla dat sy tussen 2013 en 2015 meer as R557 000 van die eienaar van die Mon­tana Gastehuis, Wolfgang Beitz, op bedrieglike wyse in ander bank­rekenings oorbetaal het.

Sy is daaraan skuldig bevind dat sy betalings aan diensverskaffers ge­maak het terwyl die geld eintlik in haar eie bankrekenings inbetaal is.

Sy is ook daaraan skuldig bevind dat sy in Augustus 2015 bedrae van onderskeidelik R30 000 en R80 000 betaal het aan ’n beleggingsrekening terwyl die geld inderdaad in die persoonlike rekening van ene Bradley Titus inbetaal is.

Sy is egter onskuldig bevind op ’n klagte dat sy R110 000 in die bank­rekening van Titus inbetaal het.

Die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra, terwyl Weyngaardt se nuwe regs­hulpprokureur, Wenzel Botha, vir ’n algehele opgeskorte vonnis ge­vra het.

Streeklanddros LA Wilkens het met vonnisoplegging gesê ’n opge­skorte vonnis alleen sal nie gepas wees nie.

Hy het Weyngaardt tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis wat in ge­heel voorwaardelik vir vyf jaar op­ge­skort is, en ook tot drie jaar korrek­- tiewe toesig – 24 uur per dag se huisarres behalwe vir werk- en kerkdoel­eindes. Sy moet ook 18 uur per week gratis gemeenskapswerk doen. (Deur Garnett Wicomb)

Be the first to comment on "Oud-werknemer van gastehuis kry opgeskorte vonnis"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*