‘Ovaalbaan ry glad nie so moeilik!’

Werner Koorts by sy Opel Corsa.

BYNA drie weke gelede het Oudtshoorn se Redrock Raceway, voorheen bekend as die Arnold de Jager Ovaalrenbaan, weens Covid-19 vir die eerste keer in byna sewe maande weer aksie gesien.

Oor die jare heen was die wedrenne hier baie gewild, en was die byeenkoms op Saterdag 26 September weer ’n groot trekpleister vir Oudtshoorniete.

Maar wat lok mans, vrouens en kinders om te wil deelneem aan die sport, wat bekoor hulle so. En hoeveel tyd en geld kos dit jou om te kan deelneem?
Die 33-jarige Werner Koorts wat onlangs sy eerste ovaalbaanwedren aange-pak het, vertel so tussen die stof en petroldampe hy kyk al vandat hy klein is stockcars, soos dit algemeen bekend staan. “Dit was nog altyd my passie om te kan jaag. Omdat ek hou van goed wat my adrenalien laat pomp, het ek besluit om ’n oval track kar te koop,” vertel hy. Kort daarna het hy homself ingeskryf vir die SWD Ontwikkelingsklas.

Volgens Werner eindig dit nie by ’n renmotor aankoop nie. Jy het onder meer ook ’n ovaalbaanlisensie van Motorsport Suid-Afrika (MSA), vlak 1 brandbestan-de beskermende drag, handskoene en ’n wedrenhelm nodig.

Wat sy renmotor betref het Werner ’n Opel Corsa met ’n Opel Kadett standaard Big Block 1.6 enjin wat hy op ’n Facebookgroep vir die koop en verkoop van stockcars gesien het. Hy moes dit op Brandfort anderkant Bloemfontein gaan haal.

Ovaalbaan-geesdriftiges sal vra, maar hoekom het hy nie sy eie kar opgebou nie. ’n Mens hoor tog gereeld enjins wat saans en oor naweke in die woonbuur­te raas soos die petrolkoppe aan hul haastige rygoed werk?

Werner sê hy het nie sy renmotor self gebou nie omdat hy nie regtig tyd het daarvoor nie. Met sy werk as bestuurder by Debonairs Pizza is dit moeilik. Ure is lank en hy werk saans tot laat.

“Ek beplan wel om my kar se head te laat port en flow. Die kar het ook ’n ander cam in, en ’n vernier pulley en ’n branch op,” vertel hy. Vir jan en alleman beteken dit bloot: ons ry nou vinniger! Werner sê hy het R20000 vir sy kar betaal, en ’n verdere R11000 daaraan bestee.

Werner het sy eerste wedren as ietwat bittersoet ervaar. Sy voertuig het ’n petrolprobleem gehad. Hy het aanhou jaag bloot om elke uitdun te voltooi en punte te kry. “Met die eerste uitdun het die senuwees geknaag en het ek nie geweet wat om te verwag nie, maar met die tweede een het die adrenalien die spanning verjaag.

“Die wedywering van die ander renjaers is sterk, en almal is bedrewe en het haastige renmotors,” sê hy, en voeg by dat al was hy die nuweling op die baan, was almal baie behulpsaam. Veral in die kuipe het almal probeer help as jou renmotor probleme optel.

Volgens Werner is sommige voornemende renjaers onnodig skrikkerig vir ovaalrenne. “Enigeen wat wil, kan dit doen. Dit is maklik.”

Hy sê ’n mens moet net die basiese ondervinding hê van hoe om te bestuur, en net seker maak dat jou kar die regte spesifikasies het vir jou klas. (Deur Stefan Skapie Goosen)

Be the first to comment on "‘Ovaalbaan ry glad nie so moeilik!’"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*